Bible Society of South Africa

‘n Nuwe, onverganklike lewe – 4 April 2022

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

1 PETRUS 1

Die lewende hoop en die egte geloof

3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons 'n lewende hoop 4op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.

1 PETRUS 1:3-4AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer ons in lewensgevaar verkeer, kan ons maklik moedeloos word. Ons kan oorweldig voel deur ons omstandighede, en later ‘n skewe beeld begin ontwikkel van wie ons is, en waarheen ons op pad is. Petrus se eerste lesers ken die verwerping van hul eie gemeenskappe, en die vervolging van die Romeinse Ryk, omdat hulle Jesus as Here navolg. Hulle sou begin wonder het of dit die moeite werd is om hierdie pad saam met Jesus te stap.

In plaas van om saam met hulle in klaagliedere te verval, hef Petrus ‘n loflied aan! Hy fokus sy aandag nie op die gevaar of probleme nie, hy kies om ‘n loflied te sing. Die lewe mag moeilik wees, maar Petrus het die ontferming van die Here persoonlik ontdek, en die grootste geskenk ooit by ons Hemelse Vader ontvang. Hierdie geskenk is die nuwe lewe wat ons in Christus kry. Dit is duur gekoop met die kruisdood van Jesus, die waarborg daarvoor is die opstanding van Jesus uit die dood uit. Jesus het die dood oorwin, en die prys vir al ons sonde betaal. Hy het ons geroep: “Volg My!” Die pad wat ons saam met Hom stap, is nie altyd maklik nie. Dit vra van ons om aan onsself te sterf, en onsself te verloën. Maar hierdie nuwe lewe hou vir altyd, en dit dra ons deur moeilike tye.

Petrus beskryf dit met drie begrippe wat die kosbaarheid daarvan onderstreep. Ons nuwe lewe is onverganklik – dit gaan nooit weer ophou nie. Dit is onbesmet – dit kan nie besoedel word nie. Dit is onverwelklik – die mooi daarvan hou nooit op nie. EN dit is vir jou en my – die geskenk wanneer ons God se genade en vrede in ons lewens ontvang het. (1 Petrus1:2)

Ons nuwe lewe het ‘n eindbestemming – die erfenis wat in die hemel in bewaring gehou word. Die plan van God vir die ewigheid is baie goed. Ons vertroue in die Here vir môre gee ons krag om vandag te volhard as die lewenspad moeilik is. Dit vul ons met hoop om te weet dat ons lyding tydelik is in hierdie wêreld, maar dat ons God se goedheid vir ewig gaan geniet.

Hoop is een van die mooiste geskenke wat die Here vir ons gegee het. As nuwe mense op ‘n nuwe pad, in Jesus se voetspore, leef ons met hoop. Onverganklike, onbesmette, onverwelklike hoop wat ons deur alle omstandighede dra.

Gebed: Dankie Vader vir die nuwe lewe wat U in Christus aan my gegee het. Dankie dat ek saam met U op my lewenspad mag reis, en dat die hoop wat U vir my gee, ewig, rein en mooi is. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS