Skaapwagters besoek Jesus – 5 Desember 2022
Deur Carina Francke
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Het jy al ooit in die oop veld, in stikdonker oornag? G’n ster of helder maan is êrens in sig nie. Jy kan byna nie jou hand voor jou oë sien nie. Of erger nog, jy moet wakker bly omdat jy hoor hoe wilde diere hul eie gesprekke uitbrul oor die vreemdelinge wat hulle grondgebied betree.
Skaapwagters was die aand van Jesus se geboorte in die oop veld besig om hul skape op te pas. “Toevallig” was dit in die omgewing van die stal waar Jesus gebore is. Toevallig? Nee! By God is elke sekonde en gebeure intensioneel – niks word aan toeval oorgelaat nie. Die stikdonkerte van daardie nag was skielik verlig deur die teenwoordigheid van ‘n engel by hulle, asook die heerlikheid van die Here wat rondom hulle geskyn het.
Waarom hierdie sigbare, visuele openbaring deur ‘n engel? Dit het nie alleen die heilige en onbetwisbare Goddelike betrokkenheid bevestig nie, maar het ook die menslike kleingelowigheid aangespreek. Daar moes geen twyfel by hierdie groep herders bestaan wanneer die engel “die goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bedoel is,” aan hulle oordra nie. (Lukas 2:10)
Ek vermoed dat die skaapherders nie kon wag om die hart van die boodskap te hoor en self die kindjie te sien nie. Hulle nuuskierigheid word bevredig: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê.” (Lukas 2:11-12) God maak egter seker dat die waarheid van die Verlosser insink toe ‘n menigte engele uit die hemel, saam met die eerste engel, God begin prys en sê: “Eer aan God in die hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!” (Lukas 2:13-14) Die herders is daar en dan reguit Betlehem toe en vind Maria, Josef en die Kindjie. Ja presies net soos wat die engel gesê het!
Diep onder die indruk van die waarheid wat hulle gesien en beleef het, doen hulle die eerste ding wat nuwe gelowiges doen – hulle “vertel” ander van Jesus, die genade-geskenk uit God se hand. Soos met mense wie se pad Jesus s’n kruis, word hierdie herders se terugtog, ook een van lofprysing aan God oor alles wat hulle gehoor, gesien en ervaar het.
Verstaan jy wat hier gebeur? Geen mens, ongeag status, besittings of afkoms, wat in Jesus Christus, die Seun van God glo, sal weggewys word om in sy teenwoordigheid te leef nie.
Gebed: Ons hemelse Vader, dankie dat U geen aannemer van die persoon is nie. Ongeag rykdom of armoede, koning of skaapwagter – elkeen wat wil, mag deel word van die skare gelowiges wat glo in die Verlosser, Christus die Here!” Ja waarlik, die Lig het gekom! Amen