Bible Society of South Africa

Toegang tot die koninkryk – 30 September 2022

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

2 PETRUS 1

11En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.

2 PETRUS 1:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wie wil graag toegang kry tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser? Sekerlik elkeen van ons wat hier lees. Ons sekerheid van hierdie toegang is gevestig in ons geloof. Tog gebeur dit soms op onbewaakte oomblikke dat mens wonder oor geloof. My negejarige kleindogter se liefde vir die Here en haar gretigheid om kerk toe te gaan gee vir my groot blydskap. So ‘n paar weke gelede kom sy na my toe en vra: “Oupa hoekom is dit partykeer so moeilik om in God te glo?” Hoe antwoord jy as jyself ook soms met die vraag worstel.

God het geweet dat ons soms deur diep water kan gaan met ons geloof, want dit is en bly maar menslik om soms te twyfel. Daarom het Hy vir ons ‘n paar ankers gegee om ons op die pad te help. Een van die belangrikste ankers is die sakramente van doop en nagmaal. In die sakramente is daar juis die tasbaarheid wat ons kortkom in die abstraksie van geloof. God gee ook vir ons broers en susters in die geloof, daardie mense wat langs jou in die kerkbank sit of die een saam met wie jy die kospakkies vir die behoeftiges opmaak of Bybelstudie doen. As ‘n mens op ‘n dag twyfel, is dit soms net nodig om te weet daar is ‘n skare van medegelowiges rondom jou.

In hierdie hoofstuk gee Petrus verder vir ons ‘n lysie van dinge waaraan ‘n mens as’t ware die stand van jou geloof kan meet. Dit beteken nou nie dat hierdie “goeie werke” self jou toegang tot die koninkryk gee nie, toegang is deur genade alleen. Ons teksvers sê baie duidelik dit word ryklik aan ons voorsien, maar hierdie dinge kan ‘n mens wel help wanneer jy soms wonder oor jou eie geloof. In 2 Petrus 1:5 sê hy: “Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg” en gaan dan voort met die lysie van dinge om by die geloof te voeg. Insig, selfbeheersing, volharding, godvresendheid, broederliefde, liefde vir alle mense. Daar is natuurlik nog meer wat nie hier gelys word nie. Hierdie is almal kenmerke van ‘n koninkryksmens, so as jy dit in jou lewe kan raaksien, is dit almal ankers van geloof.

Gebed: Onse Vader wat in die hemel is laat u koninkryk ook in my lewe kom en laat ek elke dag seker wees dat ek ook toegang het tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS