Bible Society of South Africa

Vrees – 15 Desember 2022

Deur Carina Francke

Bybelteks(te)

PSALMS 23

4Selfs al gaan ek deur donker dieptes,

sal ek nie bang wees nie,

want U is by my.

In u hande is ek veilig.

Die Bybel is vol voorbeelde van mense wat die eg menslike emosies van bangwees, benoudheid en vrees beleef het. Geen mens spring dit vry nie. Ook nie gelowiges nie. Ja, selfs Dawid, die man na God se hart, asook Jesus se dissipels, het hierdie emosie êrens op hul lewensreis beleef. Dawid kanaliseer egter sy vrees – hy verklaar sy gewaarborgde veiligheid – die Here! Hy is oral waar Dawid rondbeweeg, selfs in die donkerste van donker dieptes. En dit is daar, in die Here se hande alleen, waar hy veilig is. (Psalm23:4)

Maar het jy geweet dat dit ook die gelowige se plek van veiligheid is? Jesus verklaar dat ons, sy skaapkudde, sy stem ken en daarna luister en Hom volg. Hy gee aan ons die ewige lewe en niemand sal ons uit sy of die Vader se hand ruk nie. (Johannes 10:28-29) Die vraag aan jou: Is jy bekend met jou plek van veiligheid?

In ‘n gedig van Dawid erken hy dat hy gevrees het toe die Filistyne hom in Gat gevang het, maar dat hy doodeenvoudig net “sy vertroue in God gestel het.” En dan vra hy so half tong in die kies: “Wat kan ‘n blote mens (vlees) aan my doen?” (Psalm 56:4-5)

Jesus se dissipels skree van angs toe Hy in die nag in stormsee en woeste wind na hulle toe op die water aangeloop kom. En om alles te kroon: hulle dink dat hulle met ‘n spook te doen het! (Matteus 14:26) Eie aan sy Goddelike aard, stel Jesus hulle egter daar en dan op hulle gemak: ”Hou goeie moed, dit is Ek! Moenie vrees nie.” (Matteus 14:27)

Die groter probleem is egter: wat doen jy as die onsigbare jou angstig maak? Jy weet mos, daardie emosie wat jy nie noodwendig altyd aan ‘n gebeure koppel nie, maar dit versteur jou nagrus, maak jou kortasem, en laat jou lyf in naaldeprik hitte gloei. En by die wakkerskrik weet jy eenvoudig net: angs, bangheid, vrees of senuwee-agtigheid, wil kom tent opslaan in jou hart en gees. Hoor dan die Here se woorde: “Werp jou sorg op die Here, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie.” (1 Petrus 5:7)

Maak dan terselfdertyd in geloof jou gees aan hierdie lewende, kragtige woorde vas: “God het jou nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag, liefde en selfbeheersing.” (2 Timoteus 1:7)

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U die onwelkome gees van vrees uit u kinders se lewe verban het. Dankie dat die gees wat U aan ons gegee het, ons vul met Heilige Gees krag, Goddelike liefde en selfbeheersing! Vrees hoef ons nie op hol te jaag nie. U is by ons. Altyd. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS