Vrese en bekommernisse: Bang vir die onbekende – 15 Februarie 2022
Deur Charlea Sieberhagen-Grey
Bybelteks(te)
JESAJA 41
Vir baie jare het Oujaarsaand my beangs laat voel, eerder as opgewonde oor die nuwe jaar wat wag. Ja, daar was seker ’n mate van opgewondenheid oor die kans om weer nuut te begin en ’n nuwe blaaitjie om te slaan, maar ek het grotendeels angstig gevoel oor die onbekende wat voorlê. So, ek was selde lus vir groot partytjies om die nuwe jaar mee af te skop. Ek weet, dit klink maar bitter droewig.
Een van die wonderlike dinge van Oujaarsaand en ’n nuwe jaar wat wink, is natuurlik die feit dat jy kan terugkyk na die jaar wat agter jou lê – dan is jy dalk bly jy kan die jaar eindelik afskud of jy is dankbaar oor die wonderlike jaar wat verby is en die genade wat jy ervaar het. Maar sodra jy weer vorentoe kyk, dan lê die nuwe jaar soos ’n leë stuk papier voor jou. En wie weet wat in die nuwe hoofstuk geskryf gaan word?
Die onbekende bly een van die mees vreesaanjaende dinge waarmee ons gedurig gekonfronteer word.
Ja, ons het die eerste maand agter die rug en hier is ons klaar in die middel van Februarie. Tog lê daar nog ’n lang jaar voor ons uitgestrek en ons weet nie watter uitdagings wag nie. As ’n selferkende beheervraat bly dit jaar na jaar vir my ’n uitdaging – die besef dat ek nie alles wat oor my pad kom, gaan kan beheer nie. Dit maak my doodgewoon bang. Dís wel hoekom ek gedurig na die Bybel moet terugkeer, sodat ek herinner kan word dat ek nie bang hoef te wees nie. Veral nie vir die onbekende nie.
Dit is gerusstellend om te weet dat God derduisende jare terug vir sy volk beloof het dat Hy hulle sal sterk maak en sal help, dat Hy hulle in sy sterk hand sal vashou. Ek glo daardie belofte is ook direk op my en jou lewe van toepassing. Met tien nuwe maande wat voorlê, kan ons een maand op ’n slag aanpak en onthou: God sal ons sterk maak wanneer nuwe uitdagings oor ons pad kom. Hy sál ons help.
Gebed: Here, help my om vanjaar nie bang te wees vir die onbekende nie. Help my om op U te vertrou en te onthou dat U my altyd sal bystaan en help, ook in omstandighede wat buite my beheer is. Amen