Bible Society of South Africa

Vrese en bekommernisse: Vrees vir verlies – 16 Februarie 2022

Deur Charlea Sieberhagen-Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 34

5Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord,

Hy het my gered uit alle doodsgevare.

Verlies. Ek dink dit is een van die goed in die lewe wat ons almal wens ons kan vermy. En die vrees daarvoor is een van daai emosies wat diep in ons binneste skuil. Ons praat nie noodwendig altyd maklik daaroor nie maar dit volg ons oral waar ons gaan.

Vir elkeen van ons lyk daardie vrees ook anders. En in die afgelope twee jaar het dit dalk vir sommige van ons ’n groter werklikheid geword as wat ons verwag het, daai vrees het konstant aan die deur kom klop want die wêreld het skielik, so te sê oornag, in ’n baie onsekere en wispelturige plek verander. Selfs al voel dit ook of dinge stadig maar seker na normaal begin terugkeer, leef ons met ’n mate van onsekerheid en vrees saam.

Waarvoor het jy bang geword?

Dat jy geliefdes aan die dood gaan afstaan? Dat jou salaris verminder gaan word? Dat jy jou werk gaan verloor? Dat jy nie meer jou kar- of huispaaiement gaan kan bekostig nie want alles het gewoon te duur begin raak? Of dat jy vir jou kinders gaan moet sê dat jy nie meer hul buitemuurse aktiwiteite kan bekostig nie?

Dit is alles geldige vrese want wanneer ons met dié soort dinge gekonfronteer word, beteken dit ons moet opnuut sin maak van ons lewens en dit is nooit ’n maklike of eenvoudige proses nie. Daarmee saam moet ons dikwels ook pyn en hartseer verduur.

In Psalm 34 getuig Dawid oor die grootheid van God en hy vertel dat God hom gered het van die dinge waarvoor hy bang was. In vers 9 sê hy: “Dit gaan goed met die mens wat vra dat die Here hom moet beskerm.”

Ten spyte van ons vrese moet ons aanhou bid vir God se beskerming en leiding in ons lewe. Ons moet vertrou dat Hy ons sal dra en sal help sodat ons minder tyd sal gebruik om daaroor te bekommer.

Ongelukkig beteken dit nie dat ons nie steeds met verlies gekonfronteer gaan word nie. Maar ek glo met my hele hart dat dit wel beteken dat God ons deur die moeilike tye sal vashou en sterk maak. Ons sal nie alleen wees nie.

Gebed: Almagtige Vader, ons leef in ’n wêreld waar ons so dikwels met verlies en die pyn daarvan gekonfronteer word. Help my om nie in vrees te leef nie, maak my gemoed rustig wanneer die bekommernisse my wil oorweldig en beskerm my en my geliefdes asseblief. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS