Bible Society of South Africa

Wanneer is ek belangrik in die koninkryk? – 24 Augustus 2022

Deur Fanie Richter

Bybelteks(te)

MATTEUS 20

28So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

MATTEUS 20:28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer is ek belangrik en betekenisvol in die koninkryk van God? Dit impliseer dat die koninkryk, insluitend die Kerk van Christus, ’n belang in my moet vind – in die diens en waarde wat ek toevoeg volgens God se doel en plan met my. “God het ons gemaak wat ons nou is. Hy het ons in ons verhouding met Jesus Christus so gemaak dat ons die goeie werke wat Hy vir ons bestem het, kan uitlewe.” (Efesiërs 2:10) Wanneer ’n mens dit verwesenlik, dien jy betekenisvol.

Jesus sê in Matteus 20:25-28 so duidelik dat ons belangrikheid (betekenisvolheid) juis in ons diensbaarheid te vinde is – die edelike essensie van ons lewensdoel. “So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.” (vers 28)

Die voordeel in en uit die koninkryk kom op ’n ander wyse as wat mense gewoonlik begeer – ook na jou toe – wanneer jou optrede en medewerking reg is. Wanneer die geheel reg gedien is, beleef dit die Here se seën – aan ontvangers en ook wederkerig aan medewerkers wat saam in daardie liefde, vreugde en vrede deel weens transformasie (hervorming) – wat God daardeur skep tot seën vir almal.

Jesus het die belangrikheid van ons diensbare medewerking kom verduidelik deur sy eie voorbeeld en ons uit ons onkunde – met verduisterde verstand sonder deel aan die lewe wat God skenk (Efesiërs 4:18) – kom verlos en versoen met God – om deel van sy koninklike familie te word, met die koninklike mandaat om hierdie Ryk se seën verder te bewerkstellig.

Jy word van belang in die koninkryk wanneer jy jouself oorgee aan die wil en plan van God en dit begin dien. Die vreugde en bevrediging daardeur sal jou so inspireer dat jy meer wil saai. Dis die krag van die evangelie en die werking van die Heilige Gees wat ons van Hom kom leer.

Gebed: Here, help my om betekenisvol vir u koninkryk te word, soos U dit beplan en bedoel, dat ek verder daartoe kan bid en dien in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS