Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 1

Vreesloos vorentoe

Bybelteks(te)

PSALMS 118

5In my nood het ek na die Here geroep,

die Here het my gebed verhoor en my bevry.

6Die Here is by my, ek ken geen vrees nie;

wat kan 'n mens aan my doen?

PSALMS 118:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

PSALMS 91

7Al val daar duisende langs jou,

tienduisende by jou,

vir jou sal niks tref nie.

Floyd Mayweather Jr. teen Manny Pacquiao. Hierdie boksgeveg wat op 2 Mei 2015 in Las Vegas, Nevada, plaasgevind het, is deur verskeie nuusbronne as “die boksgeveg van die eeu” beskryf. Met $300 miljoen prysgeld (bykans R4 miljard) op die spel, is dit te verstane waarom dié boksgeveg die wêreld se aandag getrek het.

In die aanloop tot die boksgeveg is verskeie dokumentêre programme oor beide boksers uitgesaai. Met Mayweather se rekord van byna vyftig gevegte sonder ʼn nederlaag, het ʼn Amerikaanse sportkommentator hom in ʼn onderhoud gevra of hy bang is om teen Pacquiao te veg, aangesien hy ook ʼn baie goeie wenrekord het. Sonder enige aarseling het Mayweather geantwoord: “Ek sien Pacquiao net soos enige van my vorige opponente. Hy bly ʼn opponent. Die oomblik as ek ʼn naam of gesig aan my opponent koppel, sal dit my beïnvloed. Dus, net soos met enige van my vorige gevegte, bly Pacquiao eenvoudig die opponent terwyl ek voorberei.” Mayweather het die geveg gewen.

Mayweather se woorde het my laat dink aan ons daaglikse geveg op aarde. In Efesiërs 6 lees ons dat die stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug. Die vyand gebruik vrees om ons te verlam. Dit veroorsaak dat ons perspektief verloor. Dit steel ons selfvertroue en maak ons passief. Dit veroorsaak ook dat ons vergeet hoe almagtig God is en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

In ʼn stadium in Dawid se lewe moes hy daagliks vir Saul en sy manskappe vlug. In hierdie situasie kon hy toegelaat het dat vrees hom onderkry, maar hy het gekies om sy vertroue in God te plaas. Kyk weer na sy woorde in Psalm 118:5-6: “In my nood het ek na die Here geroep, die Here het my gebed verhoor en my bevry. Die Here is by my, ek ken geen vrees nie; wat kan ʼn mens aan my doen?” Ook in Psalm 91:7 lees ons: “Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”

Die vyand sal altyd jou gedagtewêreld met vreesgedagtes probeer betree. Só gee jy die opponent ʼn gesig en krag om jou te beïnvloed. Wat staar jy vandag in die gesig? ʼn Finansiële krisis? Dreigemente van ʼn egskeiding? ʼn Krisis met jou kind? Aflegging by die werk? Siekte? Koppel jy ʼn naam aan jou uitdaging of sien jy die situasie bloot as ʼn opponent terwyl jy jouself herinner aan wie God is en wat Hy kan doen? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS