Bible Society of South Africa
Benescke Janse van Rensburg

Vreesloos vorentoe – Dag 6

Vreesloos vorentoe: Deur God deel van jou planne te maak

Bybelteks(te)

JAKOBUS 4

2Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

SPREUKE 3

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

MATTEUS 7

Gebedsverhoring

7“Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word,

JEREMIA 33

3Roep My aan, Ek sal jou antwoord en jou vertel van groot en onverstaanbare dinge waarvan jy nie weet nie.

JEREMIA 33:3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons dogtertjie het deur die “ek sal self”-fase gegaan toe sy twee jaar oud was. Self aantrek. Self eet. Self by trappe afstap. Selfs self oor die pad stap. Het ek dit toegelaat? Natuurlik nie as dit haar lewe in gevaar kon stel nie. Tog, om ʼn groot tranedal aan die een kant te vermy en vir haar ʼn leergeleentheid aan die ander kant te skep, het ek geleer om soms terug te staan en haar toe te laat om eers “self” te probeer — al weet ek ook dat sy my hulp heel moontlik gaan inroep.

In ons lewens as volwassenes gaan ons ook soms deur hierdie “ek sal self”-fase. Ons verklaar dit dalk nie soos my dogtertjie met ons woorde nie, maar wel met ons dade wanneer ons nalaat om God deel van ons lewens te maak. Ons dink byvoorbeeld ons kan self die krisis in die werkplek, in ons huwelik of met ʼn kind uitsorteer — omdat ons dit in die verlede gedoen het. Of ons dink ons kan self loskom uit ons finansiële verknorsing — omdat ons vriende met kennis het wat ons kan help. Of ons dink ons kan self besluit of die persoon met wie ons in ʼn verhouding is ons huweliksmaat is. Alhoewel God ons maklik en vinnig uit situasies kan help deur ons met wysheid te lei, staan Hy ook soms terug as ons Hom nie deel van ons planne maak nie. Ons lees immers in Jakobus 4:2b: “… julle het nie, omdat julle nie bid nie.” Wanneer ons vasbrand, besef ons opnuut ons afhanklikheid van Hom.

Om onsself dus geweldig baie frustrasie en seer te spaar en God se beste vir ons lewens te beleef, sal ek voorstel dat ons God deel maak van elke faset van ons lewens. In Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” In Matteus 7:7 lees ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word …” En in Jeremia 33:3 sê God: “Roep My aan, Ek sal jou antwoord …”

Soek jy God se koninkryk eerste deur Hom deel te maak van jou planne in die werkplek of by die huis of sê jy steeds met jou optrede, soos my dogtertjie, “ek sal self”? Sterkte.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS