Vreugde en seisoene – Dag 1
Nuwe seisoene
Bybelteks(te)
PREDIKER 3
Elke ding het sy vaste tyd
Septembermaand is lentemaand. Hoewel die weer nog nie heeltemal gedraai het nie, is daar ʼn opgewondenheid in die natuur vir die nuwe seisoen wat wag. Die twee bome in ons voortuin het ʼn ligte groen skynsel van nuwe blaartjies en botsels. Voëltjies sing uit volle bors. Die nuwe seisoen is hier!
Soms praat mense van ʼn nuwe seisoen in hulle lewens. Dan bedoel hulle ʼn nuwe fase van die lewe. Hulle het dalk ʼn nuwe werk begin, of daar was dalk ʼn verandering in hulle gesin. Soms het mense ʼn nuwe voorneme oor ʼn lewenstylverandering. Jy besluit dalk jy wil gesonder leef, fikser word, meer gereeld jou Bybel lees, en bid.
As mense verwys na ʼn seisoen in hulle lewens, verwys hulle gewoonlik na ʼn sekere fase van die lewe. Iemand vertel my op ʼn dag dat hy in ʼn seisoen van toewyding ingaan, want hy wil meer en meer moeite doen om nader aan die Here te leef. Hy wil van nou af moeite doen om die verkeerde dinge in sy lewe uit te sorteer. Iemand anders wil ʼn seisoen van gebed binnegaan. Daarmee wou sy meer erns maak met gebed.
As die lenteseisoen daarbuite begin is dit ʼn goeie tyd om weer na te dink oor die rigting en doel van jou lewe. Die begin van September is ʼn goeie tyd om weer voor die Here stil te word en jou geestelike seisoen te oordink. Dit is dalk tyd vir ʼn nuwe begin in jou lewe. Dalk het die winter te lank aangehou en jy het te lank by slegte gewoontes stilgestaan. Dan is dit tyd vir ʼn nuwe seisoen om die Here weer met nuwe ywer te dien. Daar is nie ʼn beter tyd om ʼn nuwe seisoen in jou lewe te begin as “nou” nie.