Vreugde en seisoene – Dag 10
Om jouself lief te hê
Bybelteks(te)
MATTEUS 22
PSALMS 139
Iemand het op ʼn dag vir my gevra of ʼn mens nie selfgesentreerd is as jy jouself liefhet nie. Daar is mense wat sukkel om die begrip “selfliefde” te verstaan. Miskien is dit omdat selfliefde soms met selfgesentreerdheid verwar word. Selfgesentreerdheid is om op te tree asof alles in die samelewing rondom jou eie belange draai. So ʼn houding van selfgesentreerdheid en selfverheerliking het niks met liefde vir jouself te maak nie; dit is eerder om van jouself ʼn afgod te maak. As jou optrede ten koste van ander mense is en hulle benadeel, is dit nie liefde nie, maar selfsug. Liefde is iets anders. Vandag se teksvers leer vir ons dat liefde vir jouself onlosmaaklik is aan die liefde wat jy vir ander mense het.
Liefde bou jouself en ander mense op en is nie afbrekend teenoor jouself en ander nie. Selfliefde is om te weet dat jy (en ander mense) kosbaar is omdat julle na die beeld van God gemaak is. God het jou so lief dat Hy sy enigste Seun, Jesus Christus, gestuur het om vir jou te sterf. Dit maak jou en ander mense rondom jou baie kosbaar. Daarom mag jy jouself of ander mense nie geringskat en afbreek nie, want God het julle geskape. Selfliefde is om jouself te ken en te aanvaar. Jy moet jou eie sterkpunte, sowel as jou tekortkominge, besef en bereid wees om dit te aanvaar en daarmee saam te leef. Dit beteken nie dat jy die sondes in jou lewe moet aanvaar nie – daaraan moet jy werk. Mense sukkel om met ander mense in ʼn verhouding te staan en ander lief te hê as hulle nie ʼn goeie gebalanseerde siening van hulself het, hulself liefhet, of tevrede is met hoe God hulle geskape het nie. Om jouself lief te hê is om vir jou eie gees en liggaam om te gee, dit te versorg en op te pas.
In Psalm 139:14 staan: “Ek wil U loof, want U het my op ʼn wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. Dit weet ek seker.” Matteus 22 leer vir ons om vir jouself en ander mense op dieselfde manier lief te wees. Dit is soms moeilik om hierdie balans toe te pas. Die toets vir selfliefde is om vir ander om te gee soos jy vir jouself omgee.