Vriendskap – dag 10
Lesse uit Job (Deel 1): Elifas
Bybelteks(te)
JOB 5
Elifas: God maak gesond
JOB 5
Verlies bring jou nader aan sommige mense, maar soms bou dit mure tussen mense. In die boek Job ontmoet ons ʼn man wat eers ʼn ryk en gerespekteerde man in die samelewing was, maar nou het hy alles verloor – sy rykdom, sy eiendom, sy vrou, sy kinders en sy gesondheid. Drie van sy vriende, Elifas, Bildad en Sofar, kom besoek hom, en hulle probeer vasstel hoekom hierdie ramp Job getref het.
Die volgende drie dae gaan ons hierdie drie manne ʼn bietjie van nader bekyk en veral fokus op hoe hulle teenoor Job in sy tyd van nood gereageer het. Ons begin met Elifas.
Dink ʼn bietjie. Elifas het hom in moeilike omstandighede bevind. Hy was die eerste een om met ʼn vriend te praat wie se wêreld inmekaar getuimel het en wat fisies en geestelik swaar kry. Wat sê ʼn mens? Sê jy jy is jammer? Dit mag dalk baie alledaags klink. Moet ʼn mens sommer met die deur in die huis val? Dit mag dalk baie onsensitief wees. Elifas doen sy bes; hy praat op ʼn vriendelike manier met Job.
Hy gaan voort om aan Job te verduidelik dat hy, Elifas, al gesien en ervaar het dat mense wat sondig, swaar kry. Aangesien Job ly, moet dit as gevolg van sy sonde wees en word hy nou gedissiplineer. Elifas was van mening dat Job hom tot God moet wend en Hom nie moet verontagsaam nie; dan sou hy weer vooruitstrewend word. Alhoewel Elifas geen idee gehad het waarom Job so swaar kry nie of wat God se bedoeling daarmee was nie, was hy oortuig dat hy die oplossing vir sy vriend se probleme het. (Het jy dit nie ook al beleef nie?)
Baie van wat Elifas gesê het, was wel waar. God straf die sondaar, maar wat met Job aan die gebeur was, was dieper, iets heeltemal bo Elifas se begrip.
Hoe reageer jy wanneer ʼn vriend verlies in sy lewe ervaar? Gaan jy van die veronderstelling uit dat jy op grond van jou eie ervarings al die antwoorde het?