Vriendskap – dag 13
Jonatan en Dawid – Jonatan se selfopoffering
Bybelteks(te)
1 SAMUEL 18
Een van die bekendste verhale oor vriendskap in die Bybel is die verhaal van Dawid en Jonatan (1 Samuel 18-20). Ná sy oorwinning oor Goliat in 1 Samuel 17, het Dawid lid van die koninklike familie geword. Saul het belowe dat die man wat die Filistyne se baasvegter verslaan, met sy dogter kon trou. Dawid is toe met Saul se dogter getroud. As deel van Saul se gesin en van die koninklike hof, het Dawid baie tyd saam met Jonatan, Saul se oudste seun, spandeer.
Ten spyte van hulle verskillende agtergronde, ʼn skaapwagter en ʼn prins, het Dawid en Jonatan mekaar as geesgenote ervaar – hulle gemeenskaplike uitkyk op die lewe en die feit dat hulle dit eens was oor sake het hulle nog nader aan mekaar gebring. Dit was werklik ʼn geval van jou naaste liefhê soos jouself. Die een het die ander ook eerste gestel. In vers 4 lees ons dat Jonatan sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee het. Hy het selfs sy swaard, sy boog en sy gordel vir Dawid gegee. Anders gestel, Jonatan het gewillig die simbole van sy posisie as kroonprins van Israel vir Dawid gegee.
Hierdie liefde is ook duidelik in 1 Samuel 23:17. Jonatan sê vir Dawid dat hy weet dat Dawid ná Saul die koning van Israel gaan word. Jonatan is egter nie jaloers nie. Hy is van plan om by Dawid te staan, selfs wanneer Dawid die troon bestyg wat Jonatan regtens toekom. Dit is ʼn wonderlike prentjie van selfopoffering.
Kan jy ʼn vriendskap sluit met iemand wat ʼn posisie en rykdom gaan ontvang wat jou eintlik toekom?