Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Vriendskap – dag 15

Die Facebook-faktor

Bybelteks(te)

SPREUKE 10

18Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat;

wie skinderstories versprei, is 'n dwaas.

19Met baie praat bly die sonde nie uit nie;

wie sy woorde tel, is verstandig.

SPREUKE 10:18-19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Hoeveel vriende het jy? As jou getal Facebook-vriende die eerste getal is wat by jou opkom, is jy heel moontlik iemand wat, soos ek, vriendskappe aanlyn sluit en onderhou. Vandag kan jy nie meer oor vriendskap gesels sonder om na sosiale media te verwys nie. Hoe hanteer ons as Christene ons aanlyn vriendskappe?

Natuurlik vertel die Bybel nie vir ons presies wat geskik is al dan nie om op jou Facebook-bladsy te plaas nie, maar daar is sekere beginsels vir vriendskap wat ook aanlyn van toepassing is. Op stuk van sake het Paulus, Petrus en Johannes dikwels briewe geskryf aan Christene wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Hierdie briewe is hardop voorgelees en van kerk na kerk gestuur. Klink dit bekend? Vandag noem ons dit “viral marketing”.

Christene se primêre roeping is om liefde te bewys, om te groei in die liefde van Jesus Christus en om sy genade en waarheid in die wêreld te weerspieël. Wanneer ons van aangesig tot aangesig met iemand gesels, probeer ons wys dat ons omgee. Ons let daarop om nie die eerste ding wat by ons opkom te sê nie, maar ʼn wag voor ons mond te plaas, veral wanneer dit ʼn gemene of katterige aanmerking is. Hoeveel te meer moet ons nie in die aanlyn omgewing versigtig wees nie. Ek is die eerste een om te erken dat ek al dikwels in die openbaar die verkeerde ding gesê het, en aanlyn kan dit soveel erger wees. Iets wat ek vandag op my Facebook-bladsy skryf, lyk soms die volgende dag heeltemal onvanpas en dan het ʼn hele klomp mense dit reeds gelees. Wat ek aanlyn kan sê, wat ek vir ʼn vriend persoonlik kan sê en wat ek eerder vir myself moet hou, is vir my steeds ʼn leer- en groeiproses.

Facebook kan ʼn wonderlike manier wees om vriendskappe te versterk en te onderhou, solank ons onthou dat daar krag in woorde is; nie net in die gesproke woord nie, maar ook in daardie haastige opmerkings wat jy so vinnig op Facebook plaas.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS