Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Vriendskap – dag 3

Rut en Naomi – Naomi se liefdevolle opoffering

Bybelteks(te)

RUT 1

8Toe sê Naomi vir haar twee skoondogters: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. 9Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.”

Toe sy van hulle wou afskeid neem, het hulle begin huil

Dit is een van die bekendste verhale van lojaliteit en liefde – die verhaal van Naomi, ʼn Israelitiese vrou wat as gevolg van ernstige hongersnood in haar eie land noodgedwonge in Moab moes gaan woon, en haar Moabitiese skoondogter, Rut. Eers is Naomi se man, Elimelek, oorlede en toe haar twee seuns. Die hongersnood in haar land was verby en sy besluit om na Juda terug te keer, maar sy bevind haar in ʼn dilemma.

Die wette van die tyd het bepaal dat wanneer ʼn getroude man sterf, sy broer met sy weduwee moes trou, wat dan sou beteken dat alle kinders wat uit hierdie tweede huwelik verwek word, beskou sou word as afstammelinge van die broer wat gesterf het. Die eersgebore seun van hierdie tweede huwelik is steeds as dié van die oorlede man beskou, en hy sou dan ook al die eiendom en regte van die oorlede man erf.

Hierdie gebruik het die weduwee beskerm, anders sou sy miskien sonder vriende en heenkome agtergelaat word. Hierdie wet het verder bepaal dat indien die man geen broers het nie, die naaste manlike familielid hierdie plig moes nakom.

Om enige afstammelinge te kon hê en om versorg te wees, sou Naomi haar skoondogters moes vra om met haar man se naaste lewende manlike familielid te trou. Maar sy doen dit nie. Naomi maak ʼn onselfsugtige opoffering en stel Rut en Orpa vry van hierdie verantwoordelikheid. Sy dink net aan hulle welstand en raai hulle aan om by hulle eie mense en familie in Moab te bly.

Dit kon nie ʼn maklike besluit gewees het nie – sy het haar eie toekoms opgeoffer ter wille van haar skoondogters. In die volgende dagstukkie kyk ons na die reaksie van Rut en Orpa.

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS