Bible Society of South Africa
Xanthe Hancox

Vriendskap – dag 21

Jesus se vriendskap – geen groter liefde

Bybelteks(te)

JOHANNES 15

13Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê. 14Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel. 15Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want 'n ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee, Ek noem julle vriende, omdat Ek alles wat Ek van my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het. 16Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel om uit te gaan en vrugte te dra, vrugte wat sal hou. So sal die Vader aan julle gee wat julle ook al in my Naam vra. 17Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”

JOHANNES 15:13-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die vorige dagstukkies het ons baie geleer van verskillende vriende in die Bybel en hoe hulle in verskillende situasies gereageer het. Hier leer ons van Jesus self oor vriendskap en Hy draai nie doekies om nie. Wees lief vir mekaar. Wees selfs bereid om vir mekaar te sterf indien nodig.
Vriendskap gaan oor opoffering. Dit gaan oor die ander persoon, nie oor jouself nie. Jesus is die volmaakte voorbeeld: Om ʼn vriend te wees beteken om alles te gee sonder om iets terug te verwag. Soms is dit makliker gesê as gedaan, veral as ons baie omgee vir die persoon vir wie ons die opoffering moet maak. Maar Jesus het nie gesê dat dit maklik is om Hom te volg nie, of hoe?
Hoe naby aan Jesus se voorbeeld is jou vriendskap? Wat verhoed jou om iemand anders se behoeftes bo jou eie te stel? Wat kan jy vandag doen om uit te reik na iemand in jou onmiddellike kring? Jou klein gebaar beteken dalk die wêreld vir iemand anders.
Vier jou vriendskappe en sluit nuwes. Hernieu en versterk jou bande met ou vriende, want soos ons ouer word verander hierdie verhoudings dikwels. Verbreed jou netwerk, reik uit na mense wat jy nie goed ken nie. Daar is altyd iemand wat dit wat jy kan gee, nodig het.

Bible Society of South Africav.4.26.7
VOLG ONS