Wandel met God – Dag 11
Wandel met God – met integriteit: Hanna
Bybelteks(te)
1 SAMUEL 1
1 SAMUEL 1
1 SAMUEL 1
SPREUKE 13
“Sy was bitter hartseer en terwyl sy tot die Here gebid het, het sy onbedaarlik gehuil.” 1 Samuel 1:10
Onvrugbaarheid is al eeue lank ʼn probleem onder vroue. Kyk maar na Sara en verskeie vroue in die Bybel, en ook ander vroue wat hulleself vandag in dieselfde situasie bevind.
Vandag het baie mense toegang tot vrugbaarheidsbehandeling wat ongelukkig nie altyd suksesvol is nie, en mislukking kan lei tot hartseer, desperaatheid en selfs egskeiding.
Die beskrywing van Hanna in ons teksvers dui op iemand met ʼn gebroke gees wat baie ly. Sy het haar reeds in die onbenydenswaardige posisie bevind om een van twee vroue te wees, en alhoewel Elkana haar die liefste gehad het, was sy verskriklik ongelukkig omdat sy nie ʼn kind kon hê nie. Wat die saak vererger het, was dat die ander vrou reeds seuns en dogters by Elkana gehad het. Wanneer hulle gaan aanbid het, het Peninna haar genadeloos gespot en geterg totdat sy begin huil het en nie wou eet nie.
Maar Hanna het die Here vertrou en geglo dat Hy haar gebed sou verhoor. So, al huilend het sy haar angs voor God bely: “Sy het ʼn gelofte afgelê en gesê: “Here, Almagtige, as U tog op my ellende wou let en aan my, u dienares, wou dink en my nie vergeet nie en aan my ʼn seun gee, sal ek hom sy lewe lank aan U gee, en as teken daarvan sal sy hare nie afgesny word nie.” (1 Samuel 1:11)
Dit was geen geringe belofte vir enige ma om te maak nie, maar vir Hanna was God heilig, daar was niemand soos Hy nie en Hy was die Rots van Israel (2 Samuel 2:2). Haar gebed was onselfsugtig en volgens die wil van God. Sy het haar probleem by Hom gelaat en vol vreugde by die ander aangesluit.
Toe Samuel gebore is, het sy nie haar belofte verbreek nie. Nadat sy hom gespeen het, het sy hom na die tempel geneem en hom aan die Here vir lewenslange diens aangebied. Deur hierdie daad het sy haar hart vir die Here gegee: “Om hierdie seun het ek gebid, en die Here het aan my gegee wat ek van Hom afgesmeek het. Ja, van die Here het ek hierdie kind afgesmeek, en nou sal hy sy lewe lank iemand wees wat van die Here afgesmeek is.” (1 Samuel 1:27-28) Watter wonderlike blydskap het Hanna nie ontvang danksy haar geloof en integriteit nie.
Onvrugbaarheid in enige vorm lei tot hartseer, want dit is eintlik ʼn tipe onvervulling wat nie maklik geïgnoreer kan word nie. Jou vreugde word gesteel en die onsensitiwiteit van ander kan soms ondraaglik wees. Maar Hanna se ondervinding is ʼn bewys dat God ʼn doel het met alles wat in ons lewens gebeur. Die feit dat Hanna se swangerskap vertraag is, het tot die voordeel van al die Here se kinders gelei, en haar pyn en sielsondersoek het haar gehelp om nader aan die Here te kom. Instede daarvan om leeg te wees, het Hy haar lewe gevul met meer as waarvoor sy gevra het en sy het haar volkome aan Hom toegewy. In Spreuke 13:12 lees ons: “ʼn Verwagting wat nie uitkom nie, maak ʼn mens mismoedig; ʼn begeerte wat vervul word, bring nuwe lewe.”