Wandel met God – Dag 19
Wandel met God – in gebed: Daniël
Bybelteks(te)
JAKOBUS 5
DANIËL 2
DANIËL 2
“Die gebed van ʼn gelowige het ʼn kragtige uitwerking.” Jakobus 5:16
Daniël was ʼn aantreklike en intelligente jong man van Juda wat saam met ʼn aantal ander edelmanne weggevoer is na Babel om koning Nebukadnesar te dien. Hy het ook later een van sy raadgewers geword. Daniël het God aanbid en het getrou aan Hom gebly; hy het drie keer ʼn dag gebid en het sy waardes, ongeag die gevolge, in alle omstandighede behou. Vir Daniël en sy Joodse vriende was dit moeilik om in ʼn kultuur te leef wat nie God se wette onderhou het nie. Reg van die begin af het Daniël egter ʼn sterk karakter getoon en op ʼn praktiese manier standpunt ingeneem. Dit het hom twee keer tot op die punt van die dood getoets, maar dit het ook die koning se oë vir die krag van God geopen.
Koning Nebukadnesar was die belangrikste van die konings van Babel. Alhoewel hy homself as ʼn god beskou het, het hy nie alles geweet nie en het hy sy raadgewers nodig gehad. Hy het dit egter as sy reg beskou om al hierdie wyse manne (insluitend Daniël) te laat doodmaak indien hulle nie vir hom kon vertel wat hy gedroom het nie en nie sy droom kon uitlê nie. Hy het duidelik nog nie gehoor dat jy ander moet behandel soos jy wil hê hulle jou moet behandel nie. Toe Daniël uitvind waarom hy saam met Nebukadnesar se wyse manne – die towenaars, die voorspellers, die goëlaars en die sterrekykers van Babel – doodgemaak gaan word, was sy eerste reaksie om sy vriende byeen te bring om te bid en te pleit vir God se genade. God het hulle gebede verhoor deur die koning se droom in ʼn visioen aan Daniël te openbaar.
Toe Daniël na die koning toe is om die droom uit te lê, het hy geen krediet vir homself geneem nie, maar hy het gesê: “Die raadgewers, die voorspellers, die towenaars en die sterrekykers is nie in staat om die droom waaroor u navraag doen, vir u te vertel nie. Maar daar is ʼn God in die hemel wat geheime kan openbaar …” (Daniël 2:27-28) Nadat Daniël die droom verklaar het was Nebukadnesar so beïndruk dat hy voor Daniël gebuig en vir hom gesê het: “Werklik, julle God is die grootste van al die gode, Hy heers oor die konings en Hy openbaar geheime, want jy kon hierdie geheim bekend maak.” (Daniel 2:47)
Deur God te eer het meegebring dat Daniël die regeerder van die hele provinsie geword het en al die wyse manne aan hom gerapporteer het, wat ook God se invloed in die regering laat toeneem het. Sy getrouheid in gebed het hom in staat gestel om as banneling te oorleef en te floreer en nooit in sy geloof te wankel nie.