Bible Society of South Africa

Wandel met God – Dag 2

Wandel met God – die belangrikheid van eerlikheid: Tomas

Bybelteks(te)

JOHANNES 20

29Toe sê Jesus vir hom: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.”

JOHANNES 20:29AFR83Maak oop in die Bybelleser

HEBREËRS 11

Wat geloof is

1Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

HEBREËRS 11:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 11

16Tomas, wat ook Didimus genoem is, sê toe vir die ander dissipels: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.”

JOHANNES 11:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

JOHANNES 14:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 14

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

JOHANNES 14:6AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 20

27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”

28En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”

JOHANNES 20:27-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

“Toe sê Jesus vir hom: ‘Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.’ ” (Johannes 20:29)

Die uitdrukking “ongelowige Tomas” word nie net onder Christene gebruik nie. Indien ons eerlik met onsself is, moet ons erken dat hierdie gesegde baie keer ook vir ons én ander geld. In enige verhouding, maar veral in ons verhouding met God, is eerlikheid uiters belangrik want hierdie waarde lei tot vertroue en dit breek grense af wat weer tot groot belonings lei. Wanneer ons egter oneerlik is, selfs met onsself, benadeel ons ons persoonlike geestelike groei en vordering.

Ten spyte van ons interaksie met die kuberruim, waar mense dikwels dinge glo wat hulle nie kan sien nie, is dit tog vir baie mense moeilik om dieselfde beginsel op hulle geloof toe te pas. Geloof is iets wat baie groter voordele het en dit stel ons in staat “om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” (Hebreërs 11:1) Gelowiges mag soms skepties wees oor sekere aspekte van hulle geloof, al is dit nie noodwendig oor hulle geloof in Jesus Christus self nie. Soos Tomas glo hulle nie al Jesus se aansprake nie. Hulle erken dit egter nie eerlik soos Tomas nie, en ploeter maar voort.

“Ongelowige Tomas” was ironies genoeg ʼn vurige en lojale dissipel van Jesus. Toe Jesus na Lasarus se dood na Judea wou gaan, en sy dissipels hom probeer keer het aangesien hulle bang was dat Hy gestenig sou word, was dit Tomas wat standpunt ingeneem en dapper gesê het: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” (Johannes 11:16) Hy was ook die een wat, toe Jesus hulle vertel het dat Hy na sy Vader gaan, gesê het: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?” (Johannes 14:5) In ons deurmekaar wêreld van vandag trek ons steeds voordeel uit Jesus se antwoord op hierdie vraag: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6) Jesus is die enigste weg na God.

Tomas was nie by die ander dissipels toe Jesus na sy kruisiging aan hulle verskyn het nie. Tomas het hulle nie geglo nie en wou ʼn bewys hê voordat hy in Jesus se opstanding sou glo.

Sy ongeloof mag miskien vir ons skokkend wees, maar sy eerlikheid het die lig in sy duisternis gebring. Selfs vandag is die feit dat hy geweier het om voor te gee, ʼn bemoediging vir diegene wat met ongeloof worstel, want ons sien hoe genadig Jesus teenoor Tomas was. Sy eerlike erkenning van sy ongeloof lei daartoe dat Jesus na hom toe kom om sy twyfel te verdryf, en wanneer hy die eerste dissipel word om Jesus as Here te bely, verander dit in blye geloof: “Daarna sê Hy vir Tomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.’ En Tomas sê vir Hom: ‘My Here en my God!’ ” (Johannes 20:27-28)

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS