Wandel met God – Dag 7
Wandel met God – geduld: Job
Bybelteks(te)
JAKOBUS 5
JOB 1
Job word deur rampe getref
JOB 1
JOB 2
JOB 2
SPREUKE 9
MATTEUS 5
“Julle het gehoor van die volharding van Job en julle het gesien waarop die Here dit laat uitloop het. Die Here is immers ryk aan barmhartigheid en ontferming.” Jakobus 5:11
Die Bybel vertel ons van die wonderlike verhouding wat God met sy skepping het, asook die verhouding met baie individue uit verskillende groepe van die samelewing. Elkeen was, net soos ek en jy, geskape vir ʼn spesifieke doel, en die Bybel vertel ons van elke moontlike lewensituasie sonder om die mense waarvan ons lees, te verheerlik. Dit gee ons insig hoe om soortgelyke situasies te hanteer wanneer ons dit beleef.
Wanneer ons moeilike tye beleef en moedeloos en hulpeloos voel, is dit belangrik om te onthou: “Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig.” (Spreuke 9:10) Soms bevind ons ons in moeilike omstandighede wat nie te wyte is aan iets wat ons gedoen het nie, en die mense wat ons behoort te help, draai teen ons. Dan is dit nodig om te kyk na ons verhouding met God en ons pyn voor Hom uit te stort. God is onveranderd en bied aan ons die moontlikheid om in elke situasie naby aan Hom te bly.
Job was bekend as “vroom en opreg en het God gedien en die kwaad vermy.” (Job 1:1) Tog het hy verskriklik gely – ten spyte van sy groot rykdom, die feit dat hy geseënd was met baie kinders, en onder die mense in die ooste die belangrikste man was (Job 1:3). Steeds het hy hom in ʼn ellendige situasie bevind. Binne ʼn oomblik het hy alles verloor: sy diensknegte, sy diere en sy tien kinders. Alhoewel hy oorkom was met hartseer, het sy geloof in die Here hom gedra en het hy gesê: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21) Hy het ook van sy kop tot sy tone gely met pynlike swere en ʼn gevoellose vrou het vir hom gesê: “Vervloek God en sterf!” (Job 2:9)
Dit is moeilik om dit te verstaan. Ons kan verstaan dat dinge verkeerd kan loop wanneer mense die verkeerde keuses maak, maar dit is moeilik om te verstaan hoekom ʼn “goeie” persoon moet swaarkry. God leer ons dat Hy by ons is en dat Hy ons deur lyding vorm. Niemand kan dit keer nie want “Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” (Matteus 5:45) Dit is nie wat met ons gebeur nie, maar hoe ons dit hanteer wat tel. Ons kan ná hartseer, siekte of onreg sterker anderkant uitkom met ʼn dieper begrip van God en onsself. Indien ons ons swak keuses bely het, sal ons ligter en vryer voel.
God toets ons karakter soos Hy Job sʼn getoets het. Kan ons te midde van ons beproewing vir God vertrou? “As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10)
In sy lyding het Job God volkome vertrou en Hy het hom volkome herstel. Sy ondervinding is ʼn bewys dat dit beter is om God te ken as om antwoorde te soek.