Wie is God – Dag 15
Voorsiener van alles
Bybelteks(te)
JESAJA 55
Ek wil met julle 'n ewige verbond sluit
Hoor die vrygewige roepstem uit die hart van God vir almal wat honger en dors het, om na Hom toe te kom om te koop, sonder enige koste, alles wat hulle nodig het. Wat ʼn ongelooflike roepstem uit ʼn hart wat oorloop van vrygewigheid! Hy het sy kinders so lief en Hy wil in hulle behoeftes voorsien met iets van sodanige kwaliteit en gehalte dat selfs geld nie goed genoeg daarvoor sal wees nie!
Die woorde van Psalm 23:1 eggo hierdie sentiment: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.” God se kinders weet dat wanneer Hy hulle herder is, gee Hy hulle alles wat hulle nodig het: ʼn pragtige omgewing en stadig vloeiende strome om hulle siele te verfris; Hy gee leiding om reg te lewe; tydens donker en vreesaanjaende tye is Hy teenwoordig; Hy bevry hulle van vyande; Hy ontvang hulle soos eregaste om by die feesmaal aan te sit wat deur Hom voorberei is; en in sy teenwoordigheid is daar ewige vreugde.
God is besorg oor hulle geestelike welstand en Hy smeek hulle om seker te maak oor wat vir hulle belangrik is — is dit besittings wat nie vir ewig hou nie en geen bevrediging gee nie? Miskien is dit soos ons geslag se doellose gesoek na die nuutste diëte, wat wel bestanddele van hoë kwaliteit bevat maar selde die beloofde resultate lewer.
Vir die Israeliete in ballingskap in daardie stadium in die geskiedenis, sou geestelike dors en geestelike honger ʼn groter behoefte as fisiese honger en dors gewees het. Hulle was van hul land en plek van aanbidding weggeneem, ontneem van dit wat vir hulle bekend was, en dit het hulle geestelike groei belemmer. God, in liefde, reik uit na hulle met hierdie wonderlike uitnodiging.
Hoe staan sake vandag met ons? Is ons ook uit ons plek van aanbidding verban, daardie kosbare plek waar ons onsself aan God met hart en siel kan gee? Word ons ook meer en meer geestelik dors en verlang ons siele ook meer en meer na die geestelike voedsel wat net Hy kan gee? Het ons in ons daaglikse lewens so vasgevang geraak in dinge wat ons dreineer dat, alhoewel ons goed eet en drink, ons voortdurend dinge najaag wat nooit werklike bevrediging kan bring nie? Het ons dit wat werklik goed is, dit wat ons sieledors vir ewig kan les, vergeet?