Wie is hierdie Man? – Dag 8
Van kind tot Verlosser
Bybelteks(te)
LUKAS 2
Klassieke kinderverhale spreek tot ʼn mens se verbeelding. Veral diegene wat oor ʼn suksesverhaal handel. Die koerantverkoper wat uiteindelik die redakteur van ʼn invloedryke koerant geword het. Die jong seun uit ʼn township wat parlementslid geword het. Films en boeke oor sulke verhale is gewoonlik treffers.
Het jy al oor die jong Jesus nagedink? Oor Hom lees ons in die Bybel van geen heldeverhaal nie. Dit is vreemd. Met ons kennis van die opvoedkunde sê ons dat ʼn kind in sy eerste lewensjare gevorm word. Maar in die Bybel is daar oor Jesus niks hiervan nie.
ʼn Mens kan wel oor die jong Jesus fantaseer. Hoe sou Hy as jong seun gewees het? Ek sien Hom in sy pa se werkswinkel loop. Was Hy ʼn kind wat soos enige ander kind grootgeword het? Of het Hy nooit kattekwaad gedoen nie? Hy het tussen hout, saagsels, gereedskap en spykers grootgeword — ʼn eenvoudige omgewing. Die seun van ʼn timmerman uit die werkersklas. Later in sy lewe is Hy steeds met hierdie afkoms van Hom gekonfronteer. Hy het met sy maatjies gespeel, leer lees, skryf en glo. Die Bybel slaan hierdie tydperk oor. Ons lees van sy besnydenis op die agtste dag en oor die vlug na Egipte. In die daaropvolgende deel is Hy al twaalf jaar. Daarna spring die Bybel oor op die laaste paar jaar waarin Jesus aktief opgetree het.
Jesus was twaalf jaar toe Hy vir die eerste keer voor ʼn groter publiek opgetree het, vertel Lukas. Ons lees van enkele besondere dinge. Dat Hy groot en sterk geword het, vol wysheid en dat die genade van God op Hom was. Hy het dus sterker, wyser geword en God self het Hom met wysheid gevul.