Bible Society of South Africa

Mary Jones en haar Bybel

Eendag, lank, lank gelede was daar ’n dogtertjie met die naam Mary wat saam met haar mamma en pappa in ’n ver land met die naam Wallis gewoon het. Hulle het nie baie geld gehad nie. Daar was nie ’n skool in Mary se dorpie nie en daarom kon sy nie lees en skryf nie.

Elke Sondag het Mary saam met haar mamma en pappa kerk toe gegaan. Daar het sy soet geluister wanneer die predikant uit die groot Bybel lees. Mary het baie hard probeer om al die stories wat die predikant in die kerk gelees het te onthou, maar dit was te moeilik.

Eendag kom Mary se pappa by die huis met wonderlike nuus! Hulle dorpie gaan ’n skool kry.

“Nou kan ek uiteindelik leer hoe om te lees en skryf,” het Mary gedink. “Nou kan ek al die Bybelstories self lees.”

Maar in daardie tyd was boeke baie duur. Mevrou Evans wat naby Mary gewoon het, het haar eie Bybel gehad. Sy het geweet hoe baie Mary van Bybelstories hou. Eendag nooi mevrou Evans vir Mary om uit haar Bybel te kom lees.

“Ek wens ek het my eie Bybel gehad!” sê Mary.

Daar en dan het sy besluit om alles te doen wat sy kon sodat sy haar eie Bybel kan kry.

Mary het baie hard gewerk om geld te spaar. Sy het hout en eiers bymekaargemaak en dit op die mark verkoop. Sy het klere reggemaak en kinders opgepas.

Uiteindelik het sy na ses jaar genoeg geld gehad, maar in haar dorp was daar nie Bybels om te koop nie. Mary moes na ’n ander dorp met die naam van Bala gaan om haar Bybel te koop. In daardie tyd was daar nie motors, busse of treine nie. Mary het daarom besluit om te stap.

Sy het die heeldag kaalvoet en baie ver oor klipperige bergpaadjies gestap. Omdat hulle arm was, het sy haar skoene gespaar en dit eers naby Bala aangetrek. Mary het moeg en honger in Bala aangekom net toe die son besig was om agter die heuwels te sak.

Die volgende oggend vroeg is Mary na eerwaarde Charles om haar Bybel te gaan koop. “Ek is hier om ’n Bybel te koop sodat ek dit kan lees net wanneer ek wil.”

“Ek is baie jammer my kind, maar ek het nie meer Bybels om te verkoop nie,” antwoord eerwaarde Charles.

Mary was baie hartseer! Sy het gehuil en gehuil. “Maar ek het so ver gestap en ek spaar al vir die laaste ses jaar my geld.”

Eerwaarde Charles kon sien dat die Bybel vir Mary baie belangrik is en hy het besluit om haar te help. “Mary, jy kan een van my Bybels kry.”

“Oe! Dankie, eerwaarde Charles!” het sy bly uitgeroep. “Dankie, dankie, dankie!”

’n Baie gelukkige Mary is met haar Bybel terug huis toe. Sy het nie meer nodig gehad om te wag totdat hulle Sondae kerk toe gaan nie, sy kon nou die Bybel lees net wanneer sy wou.

Eerwaarde Charles is na Mary se besoek na ’n vergadering waar predikante van regoor die land bymekaar was; daar het hy hulle van Mary vertel. Al die predikante het besluit om meer Bybels teen goedkoop pryse vir die mense van Wallis te kry.

Een van die predikante het gesê: “As ons dit vir die mense van Wallis doen, hoekom kan ons dit nie vir al die mense in die wêreld doen nie?”

Dit is hoe die eerste Bybelgenootskap begin het. Vandag is daar meer as 140 Bybelgenootskappe regoor die wêreld wat mense soos Mary help om Bybels te kry.

Aktiwiteite:

Illustrasies © Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS