Abia koning van Juda
1En in die agttiende jaar van koning Jerobeam, die seun van Nebat, het Abia oor Juda koning geword.
2Hy het drie jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Maäga, die dogter van Abisalom.
3En hy het gewandel in al die sondes van sy vader wat hy voor hom gedoen het; en sy hart was nie volkome met die Here sy God soos die hart van sy vader Dawid nie.
4Maar ter wille van Dawid het die Here sy God vir hom 'n lamp in Jerusalem gegee deur sy seun ná hom te verwek en Jerusalem in stand te hou,
5omdat Dawid gedoen het wat reg was in die oë van die Here, sonder om af te wyk van alles wat Hy hom beveel het, al die dae van sy lewe, behalwe in die saak van Uria, die Hetiet.
6En daar was oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam, al die dae van sy lewe.
7En die verdere geskiedenis van Abia en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Daar was ook oorlog tussen Abia en Jerobeam.
8En Abia het ontslaap met sy vaders, en hy is begrawe in die stad van Dawid; en sy seun Asa het in sy plek koning geword.
Asa koning van Juda
9In die twintigste jaar dan van Jerobeam, die koning van Israel, het Asa koning van Juda geword.
10En hy het een-en-veertig jaar in Jerusalem geregeer; en die naam van sy moeder was Maäga, 'n dogter van Abisalom.
11En Asa het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid:
12hy het die manlike tempelprostitute uit die land laat wegtrek en al die drekgode verwyder wat sy vaders gemaak het.
13Ja, selfs sy moeder Maäga het hy as gebiedster afgesit, omdat sy 'n afgryslike voorwerp vir Asjera gemaak het; en Asa het die afgryslike voorwerp omgekap en in die dal Kidron verbrand.
14Die hoogtes is wel nie afgeskaf nie, maar Asa se hart was volkome met die Here al sy dae.
15En hy het die heilige gawes van sy vader en sy heilige gawes in die huis van die Here gebring: silwer en goud en allerhande voorwerpe.
16En daar was oorlog tussen Asa en Baesa, die koning van Israel, al hulle dae.
17En Baesa, die koning van Israel, het teen Juda opgetrek en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie.
18Toe neem Asa al die silwer en die goud wat oorgebly het in die skatkamers van die huis van die Here en die skatte van die huis van die koning, en gee dit in die hand van sy dienaars; en koning Asa het hulle gestuur na Ben-Hadad, die seun van Tabrimmon, die seun van Hesjon, die koning van Aram wat in Damaskus gewoon het, om te sê:
19Daar is 'n verbond tussen my en u, tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur 'n geskenk van silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baesa, die koning van Israel, dat hy kan optrek, weg van my af.
20En Ben-Hadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte teen die stede van Israel gestuur, en Ijon en Dan en Abel-Bet-Maäga en die hele Kinnerot met die hele land Naftali verwoes.
21En net toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en in Tirsa gebly.
22Toe roep koning Asa die hele Juda op — niemand was vry nie — en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baesa gebou het, weggedra; en daarmee het koning Asa Geba in Benjamin en Mispa gebou.
23En die res van die verdere geskiedenis van Asa en al sy magtige dade en alles wat hy gedoen het, en die stede wat hy gebou het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Juda nie? Maar in die tyd van sy ouderdom het hy aan sy voete gely.
24En Asa het ontslaap met sy vaders en is by sy vaders begrawe in die stad van sy vader Dawid; en sy seun Josafat het in sy plek koning geword.
Baesa roei die huis van Jerobeam uit en regeer oor Israel
25En Nadab, die seun van Jerobeam, het koning geword oor Israel in die tweede jaar van Asa, die koning van Juda, en hy het twee jaar oor Israel geregeer.
26En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en gewandel in die weg van sy vader en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.
27Maar Baesa, die seun van Ahia, van die huis van Issaskar, het 'n sameswering teen hom gesmee, en Baesa het hom verslaan by Gibbeton wat aan die Filistyne behoort, terwyl Nadab en die hele Israel besig was om Gibbeton te beleër.
28So het Baesa hom dan gedood in die derde jaar van Asa, die koning van Juda, en koning geword in sy plek.
29En sodra hy koning was, het hy die hele huis van Jerobeam omgebring; hy het van Jerobeam niks laat oorbly wat asemhaal nie, totdat hy hom verdelg het, volgens die woord van die Here wat Hy gespreek het deur die diens van sy kneg Ahia, die Siloniet —
30vanweë die sondes van Jerobeam wat hy gedoen en waarmee hy Israel laat sondig het, deur sy geterg waarmee hy die Here, die God van Israel, geterg het.
31En die verdere geskiedenis van Nadab en alles wat hy gedoen het, is dit nie beskrywe in die Kroniekboek van die konings van Israel nie?
32En daar was oorlog tussen Asa en Baesa, die koning van Israel, al hulle dae.
33In die derde jaar van Asa, die koning van Juda, het Baesa, die seun van Ahia, oor die hele Israel koning geword in Tirsa, vier-en-twintig jaar lank.
34En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en gewandel in die weg van Jerobeam en in sy sonde waarmee hy Israel laat sondig het.