Josia hou 'n plegtige Paasfees vir die Here
1Daarna het Josia in Jerusalem die Pasga tot eer van die Here gehou; en hulle het die Pasga geslag op die veertiende van die eerste maand.
2En hy het die priesters hulle dienspligte laat waarneem en hulle versterk vir die diens in die huis van die Here.
3Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die Here, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die Here julle God en sy volk Israel;
4en hou julle gereed volgens julle families, volgens julle afdelings, ooreenkomstig die voorskrif van Dawid, die koning van Israel, en die verordening van sy seun Salomo:
5gaan staan in die heiligdom volgens die afdelings van die families van julle broers, die volksgenote, naamlik vir elkeen daarvan 'n afdeling van 'n Levitiese familie;
6en slag die Pasga en heilig julle en berei dit vir julle broers, om te doen volgens die woord van die Here deur die diens van Moses.
7En Josia het aan die mense uit die volk afgegee kleinvee, skaaplammers en boklammers, dit alles as Paasoffers, aan almal wat daar aanwesig was, dertigduisend in getal, en drieduisend beeste; dit was uit die besitting van die koning.
8Ook sy vorste het aan die volk, aan die priesters en die Leviete vrywillig afgegee. Hilkia en Sagaria en Jehiël, die vorste oor die huis van God, het aan die priesters as Paasoffers tweeduisend seshonderd stuks kleinvee en driehonderd beeste gegee.
9En Konanja en sy broers Semaja en Netaneël, en Hasabja en Jeï-El en Josabad, die owerstes van die Leviete, het aan die Leviete as Paasoffers vyfduisend stuks kleinvee en vyfhonderd beeste afgegee.
10Die diens is toe gereël: die priesters het op hul plek gaan staan, en die Leviete volgens hulle afdelings, volgens die bevel van die koning.
11Daarna het hulle die Pasga geslag, en die priesters het die bloed uit die Leviete se hand geneem en dit uitgegooi, onderwyl die Leviete besig was om af te slag.
12En hulle het wat vir die brandoffer bestem was, afgesonder om dit aan die familie-afdelings van die mense van die volk te gee om aan die Here te offer, soos geskrywe is in die boek van Moses; en net so met die beeste.
13En hulle het die Pasga op die vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die heilige gawes in potte en in kanne en in skottels gekook en gou aan al die mense van die volk gebring.
14Daarna het hulle dit ook vir hulleself berei en vir die priesters; want die priesters, die seuns van Aäron, was tot in die nag besig met die offer van die brandoffer en die vetstukke; daarom het die Leviete dit vir hulleself en vir die priesters, die seuns van Aäron, berei.
15En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Asaf en Heman en Jedoetoen, die siener van die koning, en die poortwagters by elke poort; hulle het nie nodig gehad om van hulle diens af weg te gaan nie, want hulle broers, die Leviete, het dit vir hulle berei.
16Die hele diens van die Here is toe op dié dag gereël — om die Pasga te hou en brandoffers te bring op die altaar van die Here volgens die gebod van koning Josia.
17En die kinders van Israel wat aanwesig was, het die Pasga gehou in dié tyd, en ook die Fees van die Ongesuurde Brood, sewe dae lank.
18So 'n Pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van Israel het nie so 'n Pasga gehou as wat Josia en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie.
19In die agttiende jaar van die regering van Josia is hierdie Pasga gehou.
Josia sneuwel in 'n oorlog met Nego, koning van Egipte
20Ná dit alles, toe Josia die huis herstel het, het Nego, die koning van Egipte, opgetrek om te veg by Karkemis aan die Eufraat, en Josia het uitgetrek hom tegemoet.
21Toe stuur hy boodskappers na hom om te sê: Wat het ek met jou te doen, koning van Juda? Ek kom nie vandag teen jou nie, maar teen die huis wat gedurig teen my oorlog voer; en God het gesê ek moet gou maak. Verset jou nie teen God wat met my is, dat Hy jou nie vernietig nie.
22Josia het egter sy gesig nie van hom afgewend nie, maar homself onkenbaar gemaak om teen hom te veg; hy het nie geluister na die woorde van Nego uit die mond van God nie, en aangekom om te veg in die laagte van Megiddo.
23En die skutters het koning Josia raak geskiet. Toe sê die koning aan sy dienaars: Bring my weg, want ek is swaar gewond.
24Sy dienaars bring hom toe van die strydwa af weg en laat hom op sy tweede wa ry en vervoer hom na Jerusalem; en hy het gesterwe en is begrawe in die grafte van sy vaders, terwyl die hele Juda en Jerusalem oor Josia gerou het.
25En Jeremia het 'n klaaglied op Josia gedig, en al die sangers en sangeresse het in hulle klaagliedere van Josia gespreek tot vandag toe en dit tot 'n insetting in Israel gemaak; en kyk, dit is beskrywe in die Klaagliedere.
26En die verdere geskiedenis van Josia en sy vrome dade, volgens wat geskrywe is in die wet van die Here,
27sy geskiedenis dan, die vroeëre en die latere, kyk, dit is beskrywe in die Boek van die konings van Israel en Juda.