Register van Juda wat saam met Esra teruggegaan het Hulle reis
1En dit is hulle familiehoofde, met hulle geslagsregister, wat saam met my onder die regering van koning Artasasta uit Babel opgetrek het:
2van die kinders van Pinehas: Gersom; van die kinders van Itamar: Daniël; van die kinders van Dawid: Hattus,
3van die kinders van Seganja; van die kinders van Parhos: Sagaria, en saam met hom in die register opgeneem, aan manspersone, honderd-en-vyftig;
4van die kinders van Pahat-Moab: Eljehoënai, die seun van Seragja, en saam met hom tweehonderd manspersone;
5van die kinders van Sattu: Seganja, die seun van Jahasiël, en saam met hom driehonderd manspersone;
6en van die kinders van Adin: Ebed, die seun van Jonatan, en saam met hom vyftig manspersone;
7en van die kinders van Elam: Jesaja, die seun van Atalja, en saam met hom sewentig manspersone;
8en van die kinders van Sefatja: Sebadja, die seun van Migael, en saam met hom tagtig manspersone;
9van die kinders van Joab: Obadja, die seun van Jehiël, en saam met hom tweehonderd-en-agttien manspersone;
10en van die kinders van Bani: Selomit, die seun van Josifja, en saam met hom honderd-en-sestig manspersone;
11en van die kinders van Bebai: Sagaria, die seun van Bebai, en saam met hom agt-en-twintig manspersone;
12en van die kinders van Asgad: Johanan, die seun van Hakkatan, en saam met hom honderd-en-tien manspersone;
13en van die kinders van Adonikam wat later gekom het, en dit was hulle name: Elifelet, Jeï-El en Semaja, en saam met hulle sestig manspersone;
14en van die kinders van Bigwai: Utai en Sabbud, en saam met hom sewentig manspersone.
15En ek het hulle versamel by die rivier wat na Ahawa loop, en ons het daar drie dae laer opgeslaan; en ek het op die volk en die priesters ag gegee, maar van die kinders van Levi daar nie aangetref nie.
16Daarom het ek Eliëser, Ariël, Semaja en Elnatan en Jarib en Elnatan en Natan en Sagaria en Mesullam, die hoofde, en Jojarib en Elnatan, die leraars, gestuur
17en hulle bevel gegee aan Iddo, die hoof in die plek Kasifja; en ek het die woorde in hulle mond gelê wat hulle met Iddo, en sy broers, die tempelbediendes in die plek Kasifja, moes spreek, dat hulle vir ons dienaars vir die huis van onse God moes bring.
18En hulle het vir ons, omdat die goeie hand van onse God oor ons was, verstandige manne uit die kinders van Magli, die seun van Levi, die seun van Israel, gebring, naamlik Serebja met sy seuns en sy broers, agttien;
19en Hasabja, en saam met hom Jesaja, van die kinders van Merari, sy broers en hulle seuns, twintig;
20en van die tempelbediendes wat Dawid en die owerstes vir die diens van die Leviete gegee het, tweehonderd-en-twintig tempelbediendes wat almal met hulle name aangewys was.
21Toe het ek daar 'n vastyd uitgeroep aan die rivier Ahawa, om ons te verootmoedig voor die aangesig van onse God ten einde van Hom 'n voorspoedige reis te vra vir ons en ons families en al ons goed.
22Want ek was skaam om van die koning 'n leër en perderuiters te vra om ons te help teen vyande op die pad, omdat ons met die koning gespreek en gesê het: Die hand van onse God is ten goede oor almal wat Hom soek, maar sy krag en sy toorn oor almal wat Hom verlaat.
23So het ons dan gevas en onse God dit gevra, en Hy het ons verhoor.
24Toe het ek van die priesterowerstes twaalf afgesonder: Serebja, Hasabja en tien van hulle broers saam met hulle.
25En ek het vir hulle die silwer en die goud en die voorwerpe afgeweeg, die offergawe aan die huis van onse God wat die koning en sy raadsmanne en sy vorste en die hele Israel wat aanwesig was, aangebied het.
26En ek het in hulle hand afgeweeg: seshonderd-en-vyftig talente silwer en silwervoorwerpe van honderd talente, honderd talente in goud,
27en twintig goue bekers van duisend darieke en twee mooi goudgeel voorwerpe van koper, kosbaar soos goud.
28En ek het vir hulle gesê: Julle is heilig aan die Here, en die voorwerpe is heilig, en die silwer en die goud is 'n vrywillige gawe aan die Here, die God van julle vaders.
29Waak daaroor en bewaar dit, totdat julle dit afweeg voor die owerstes van die priesters en die Leviete en die familie-owerstes van Israel in Jerusalem, in die vertrekke van die huis van die Here.
30Toe het die priesters en die Leviete die gewig van die silwer en die goud en die voorwerpe ontvang om dit na Jerusalem, na die huis van onse God te bring.
31Daarna het ons weggetrek van die rivier Ahawa af op die twaalfde van die eerste maand, om na Jerusalem te gaan; en die hand van onse God was oor ons, sodat Hy ons gered het uit die hand van die vyand en dié wat ons voorlê op die pad.
32En ons het in Jerusalem aangekom en daar drie dae gebly.
33En op die vierde dag is die silwer en die goud en die voorwerpe in die huis van onse God afgeweeg onder bewaring van die priester Meremot, die seun van Uria, en by hom was Eleasar, die seun van Pinehas, en by hulle Josabad, die seun van Jesua, en Noadja, die seun van Binnuï, die Leviete —
34volgens getal en gewig van alles; en tegelykertyd is die hele gewig opgeskrywe.
35Hulle wat uit die gevangenskap gekom het, die seuns van die ballingskap, het brandoffers gebring aan die God van Israel: twaalf bulle vir die hele Israel, ses-en-negentig ramme, sewe-en-sewentig lammers, twaalf bokke as sondoffer — dit alles as brandoffer aan die Here.
36En hulle het die bevelskrifte van die koning gegee aan die landvoogde van die koning en die goewerneurs wes van die Eufraat, en dié het die volk en die huis van God ondersteun.