Petrus verantwoord hom voor die gemeente in Jerusalem
1Die apostels en die ander gelowiges in Judea het gehoor dat mense wat nie Jode is nie, ook die woord van God aangeneem het. 2Toe Petrus dan in Jerusalem kom, het die Joodse gelowiges hom verwyt: 3“Jy het mense besoek wat nie besny is nie en het selfs saam met hulle geëet.”
4Petrus het toe vir hulle alles mooi uiteengesit: 5“Ek was in Joppe besig om te bid toe ek in geesvervoering 'n gesig gesien het,” het hy gesê. “Ek het iets soos 'n groot doek wat aan sy vier punte neergelaat word, uit die hemel sien afkom, en dit het tot by my gekom. 6Toe ek goed daarna kyk, sien ek daarin viervoetige diere van die aarde, wilde en kruipende diere, en wilde voëls. 7Ek het toe 'n stem gehoor wat vir my sê: ‘Kom, Petrus, slag en eet.’ 8Maar ek het geantwoord: ‘Nooit nie, Here! Ek het nog nooit my mond aan iets gesit wat onrein of onheilig is nie.’ 9'n Tweede keer het ek die stem uit die hemel gehoor: ‘Wat God rein verklaar het, mag jy nie onrein ag nie.’ 10Dit het drie keer gebeur, en daarna is alles weer in die hemel opgetrek.
11“Terselfdertyd het daar drie mans wat van Sesarea af na my toe gestuur is, by die huis aangekom waar ons tuis was. 12Die Gees het vir my gesê dat ek nie moet aarsel om saam met hulle te gaan nie. Ek en hierdie ses broers is toe saam met hulle, en ons het in Kornelius se huis ingegaan. 13Hy het vir ons vertel hoe hy die engel in sy huis sien staan het, wat vir hom gesê het: ‘Stuur iemand na Joppe toe en laat vir Simon daar haal wat ook Petrus genoem word. 14Hy het 'n boodskap vir jou waardeur jy gered sal word, jy en jou hele huisgesin.’
15“Skaars het ek begin praat, of die Heilige Gees kom op hulle net soos op ons in die begin. 16Toe dink ek aan die woorde wat die Here gesê het: ‘Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.’ 17Hulle het net soos ons in die Here Jesus Christus geglo, en God het aan hulle ook dieselfde gawe as aan ons gegee. Wie was ek dan om God te probeer verhinder?”
18Toe die gelowiges dit hoor, was hulle tevrede. Hulle het God geprys en gesê: “God het selfs mense wat nie Jode is nie, tot inkeer gebring om aan hulle die lewe te gee.”
Die gemeente in Antiogië
19Deur die vervolging wat na Stefanus se dood ontstaan het, is die gelowiges uitmekaar gejaag. Party van hulle het na Fenisië, Siprus en Antiogië toe gegaan, maar hulle het die woord aan niemand anders as net aan Jode verkondig nie. 20Onder die vlugtelinge was daar sekere mense wat van Siprus en Sirene afkomstig was en wat in Antiogië gekom en daar ook aan die Griekssprekendes die evangelie dat Jesus die Here is, verkondig het. 21Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.
22Die berig hieroor het die gemeente in Jerusalem bereik, en hulle het vir Barnabas na Antiogië toe gestuur. 23Toe hy daar kom, was hy bly om te sien hoe God in sy genade onder hulle gewerk het, en hy het hulle almal aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly. 24Barnabas was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof.
'n Aansienlike groep mense is tot geloof in die Here gebring, 25en Barnabas is na Tarsus toe om vir Saulus te gaan soek. 26Toe hy hom kry, het hy hom na Antiogië toe gebring, en hulle twee het 'n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem.
27In dié tyd het daar profete van Jerusalem af na Antiogië toe gekom. 28Een van hulle, met die naam Agabus, is deur die Gees gelei om te voorspel dat 'n groot hongersnood die hele wêreld sou tref. Dit het dan ook in die tyd van keiser Claudius gebeur. 29Die gelowiges het toe besluit dat elkeen na sy vermoë sou bydra tot 'n hulpfonds wat vir hulle medegelowiges wat in Judea woon, gestuur sou word. 30Hulle het dit gedoen en die geld met Barnabas en Saulus aan die ouderlinge in Jerusalem gestuur.