2 Kronieke 3
Salomo bou die tempel
1Salomo het begin om die tempel in Jerusalem te bou op Moria-berg. Die Here het daar aan sy pa verskyn. Salomo het die tempel laat bou op die plek wat Dawid gekoop het. Dit was die dorsvloer van die Jebusiet Ornan. 2Hy het die tempel begin bou op die tweede dag van die tweede maand, in die vierde jaar nadat hy koning geword het. 3Die fondamente van die tempel was 60 el lank en 20 el breed. Salomo het die ou maat gebruik toe hy dit gemeet het. 4Die voorportaal by die voorkant van die tempel was 20 el lank, en die tempel was ook 20 el breed. Dit was 20 el hoog. Salomo het die binnekant van die mure van die voorportaal laat toemaak met dun goudplate. 5Hy het die mure van die groot kamer laat toemaak met sipreshout en bo-oor die sipreshout het hy dun goudplate laat sit. Hy het ook palmbome en kettings teen die mure laat maak. 6Hy het edelstene laat vassit teen die mure van die kamer. Die goud het gekom uit die land Parwajim. 7Hy het die kamer met dun goudplate toegemaak, en ook die balke, die drumpels, die mure en die deure. Hy het gerubs teen die mure laat uitsny. 8Salomo het ook die hoog-gewyde kamer laat bou. Dit was 20 el lank en dit was 20 el breed. Dit was so breed soos die voorste kamer. Salomo het goudplate van 600 talente fyn goud gebruik om die mure toe te maak. 9Hy het goue spykers gebruik, en dit het 50 sikkels geweeg. Hy het ook die bo-kamers se mure laat toemaak met goudplate. 10In die hoog-gewyde kamer het hy beelde van twee gerubs gesit en hy het hulle laat toemaak met dun goudplate. 11Die vlerke van die gerubs was saam 20 el lank. Een gerub se een vlerk was vyf el lank en dit het geraak aan die een muur van die kamer. Die ander vlerk was ook 5 el lank en dit was vas aan die vlerk van die ander gerub. 12Die ander gerub se een vlerk was ook vyf el lank en dit het geraak aan die ander muur van die kamer. Die ander vlerk was ook vyf el lank en dit was vas aan die vlerk van die ander gerub. 13Die vlerke van hierdie gerubs was oop en die vlerke was saam 20 el lank. Die gerubs het op hulle voete gestaan en hulle het gekyk na die voorste kamer.
14Salomo het die gordyn laat maak van blou, pers en rooi wol-materiaal en van linne. Hy het gerubs op die gordyn laat borduur.
15Voor die voorste kamer het Salomo twee pilare laat bou. Die pilare was 35 el hoog, en bo-op elke pilaar was 'n kapiteel, die kapiteel was vyf el hoog. 16Hy het kettings in die binnekamer gemaak en hy het dit vasgesit bo aan die pilare. Hy het 100 granate gemaak en hy het dit vasgesit aan die kettings. 17Hy het die pilare regop gesit voor die tempel, een pilaar by die regter-kant en een pilaar by die linker-kant. Die pilaar regs het hy Jakin genoem en die pilaar links het hy Boas genoem.
Bybel vir dowes/almal © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.