2 Kronieke 30
Die Paasfees in Jerusalem
1Hiskia het boodskappers gestuur na al die mense van Israel en Juda, en hy het ook briewe geskryf vir die mense van die lande Efraim en Manasse. Hiskia het gesê hulle moet na die tempel in Jerusalem kom om die Paasfees van die Here, die God van Israel, te vier. 2Die koning en sy amptenare en die hele volksvergadering in Jerusalem het besluit om die Paasfees in die tweede maand te vier. 3Hulle kon dit nie op die regte tyd vier nie, want daar was nie genoeg priesters wat hulleself gewy het nie en die mense was ook nie bymekaar in Jerusalem nie. 4Die koning en die volksvergadering het gedink dit is reg om dit so te doen. 5Hulle het besluit om 'n boodskap te stuur deur die hele land Israel, van die stad Berseba in die suide tot by die stad Dan in die noorde. Hulle het gesê dat die mense moet kom om die Paasfees in Jerusalem te vier vir die Here, die God van Israel, want min mense het voor hierdie tyd die Paasfees gevier soos dit in die Here se wette geskryf is. 6Die hardlopers het deur die hele land Israel en Juda gegaan met briewe van die koning en die amptenare. Die hardlopers het die boodskap van die koning vir die mense gebring. In die briewe was daar geskryf: “Israeliete, julle moet terugkom na die Here toe. Hy is die God van Abraham, Isak en Israel. Dan sal Hy terugkom na julle toe, julle wat oorgebly het en wat vry weggekom het van die konings van Assirië. 7Julle moenie soos julle voorvaders en soos die ander Israeliete wees nie, hulle was ontrou aan die Here, die God van hulle voorvaders. Julle het self gesien dat Hy hulle baie swaar gestraf het. 8Julle moenie nou hardkoppig wees soos julle voorvaders nie, julle moet doen wat die Here wil hê. Julle moet na sy tempel kom wat Hy vir altyd aan Hom gewy het en julle moet julle God die Here dien. Dan sal Hy ophou om kwaad te wees vir julle. 9Ja, wanneer julle terugkom na die Here, dan sal die mense wat julle familie en julle seuns gevang en weggevat het, jammer wees vir hulle. Hulle sal julle familie laat terugkom na hierdie land. Julle God die Here is genadig en goed vir mense wat swaarkry. As julle terugkom na Hom toe, dan sal Hy nie sy gesig wegdraai nie.”
10Die hardlopers het na al die stede in die lande Efraim en Manasse gegaan. Hulle het tot by die land Sebulon gegaan, maar die mense het vir hulle gelag en gespot. 11Maar party mense van die stamme van Aser en Manasse en Sebulon het hulleself verneder voor die Here en hulle het na Jerusalem gekom. 12God het ook die mense in Juda almal laat besluit om ook te doen wat die Here gesê het, hulle almal het gedoen wat die koning en die amptenare gesê het. 13'n Groot klomp mense het in die tweede maand in Jerusalem bymekaargekom om die Fees van die Ongesuurde Brood te vier. Hulle was 'n baie groot volksvergadering. 14Hulle het dadelik al die ander altare weggevat wat in Jerusalem was en ook al die ander wierook-altare. Hulle het dit in die Kedron-vallei gegooi. 15Op die veertiende dag van die tweede maand het hulle die paas-lammers geslag. Die priesters en die Leviete het toe skaam geword. Hulle het hulleself gewy en hulle het brand-offers ge-offer by die tempel. 16Hulle het op hulle plekke gaan staan waar hulle moet staan soos dit geskryf is in die Wette van Moses, die man van God. Die Leviete het die bloed vir die priesters gegee en die priesters het dit teen die altaar gespat. 17Hulle moes dit doen, want baie mense in die volksvergadering het hulleself nie gewy nie en hulle was nie rein nie. Daarom moes die Leviete die paas-lammers slag om die lammers aan die Here te wy. 18Baie van die mense van die stamme Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon het hulleself nie gereinig nie. Ja, hulle het nie die paaslam geëet soos dit geskryf is in die Wette van Moses nie. Maar Hiskia het vir hulle gebid en gesê: “Die Goeie Here sal self versoening doen vir 19elkeen wat vir God, die Here, wil dien. Hy is die God van hulle voorvaders, Hy sal self versoening doen vir elkeen wat hom nie gereinig het soos die wette van die tempel sê nie.”
20Die Here het gedoen wat Hiskia gevra het. Hy het alles vergewe wat die mense verkeerd gedoen het. 21Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier. Hulle het gewys dat hulle baie bly is. Die Leviete en die priesters het elke dag die musiek-instrumente van die tempel gespeel sodat almal dit kon hoor. So het hulle die Here geprys. 22Hiskia het vir die Leviete gesê hy is baie bly dat hulle so goed weet hoe hulle die werk vir die Here moet doen. Die mense het die fees sewe dae lank gevier. Hulle het ete-offers gebring en hulle het dankie gesê vir die Here, die God van hulle voorvaders. 23Daarna het die hele volksvergadering besluit om nog sewe dae lank fees te vier, en hulle was elke dag bly dat hulle dit kon doen, 24want koning Hiskia van Juda het vir die mense 1 000 bulle en 7 000 skape en bokke gegee om te slag. Die amptenare het ook 1 000 bulle en 10 000 skape en bokke gegee. En daar was baie priesters wat hulleself gewy het, daar was meer as genoeg. 25Al die mense van Juda was bly, ook die priesters en die Leviete en al die mense wat van Israel gekom het en die vreemdelinge uit die land Israel wat in Juda gewoon het. 26Al die mense in Jerusalem was baie bly, want daar was nog nie so 'n fees in Jerusalem nie, van die tyd toe Salomo seun van Dawid koning van Israel was. 27Daarna het die priesters en die Leviete opgestaan en hulle het die mense geseën. Die Here het gehoor wat hulle sê, hulle gebed het gekom tot by sy gewyde woonplek in die hemel.
Bybel vir dowes/almal © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2007, 2008. Digitale Weergawe © Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2012. Alle regte voorbehou. www.biblesa.co.za.