4Maar daardie nag het Natan gehoor die Here sê vir hom: 5“Jy moet vir my dienaar Dawid gaan sê dat Ek sê: ‘Is dit jý wat vir My 'n tempel wil bou om in te woon? 6Ek vra dit, want Ek het nie in 'n tempel gewoon nie vandat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het tot nou toe. Ek het saam met hulle rondgegaan in 'n tent of 'n tempel-tent. 7Ek het oral saam met die Israeliete gegaan, maar Ek het nooit gekla by een van die leiers wat Ek gekies en aangestel het om vir my volk Israel 'n herder te wees nie. Ek het nooit gevra dat julle vir My 'n tempel moet bou van sederhout nie.’ 8Daarom moet jy vir my dienaar Dawid sê dat Ek, die Here wat oor alles regeer, sê: ‘Dit is Ék wat jóú weggeneem het uit die weiveld by die skape en bokke. Ék het jou daar weggeneem om koning te word oor my volk Israel, 9en Ék was by jou oral waar jy gegaan het. Ék het al jou vyande laat sterf en Ék het jou so belangrik laat word soos die belangrike konings op die aarde. 10Ék het vir my volk Israel 'n plek gegee om te woon, en hulle woon in hulle eie land. Niemand pla hulle nie, en slegte mense laat hulle nie meer swaarkry nie soos voorheen 11in die tyd toe Ek leiers gekies en aangestel het oor my volk Israel. Ek het jou laat rus, vyande maak nie meer oorlog teen jou nie.
“ ‘Nou sê Ek vir jou: Ek sal vir jóú 'n koningshuis gee. 12Wanneer jou tyd verby is en jy sterf, dan sal Ek een van jou eie seuns koning laat word, en hy sal lank koning wees. 13Hý sal vir My 'n tempel bou, en Ek sal hom baie lank laat regeer. 14Ek sal vir hom wees soos 'n pa, en hy sal vir My wees soos 'n seun. Wanneer hy verkeerde dinge doen, dan sal Ek hom straf soos 'n mens 'n kind straf. 15Ek sal aanhou om vir hom te doen wat Ek belowe het. Ek het dit nie gedoen vir Saul wat vóór jou koning was nie. 16Jou koningshuis sal baie lank aanhou regeer, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.’ ”
18Koning Dawid het ingegaan in die tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen? 19En, Here, my Here, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Dit, Here, my Here, is wat U gesê het moet gebeur met my, 'n mens. 20Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê? Here, my Here, U ken u dienaar. 21U het dit besluit en U het hierdie groot ding gedoen om dit vir u dienaar te sê. 22Daarom, Here, my Here, U is groot, niemand is soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van 'n ander God nie. 23En wie is soos u volk, soos Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het vir Uself 'n groot Naam gemaak, want U het groot en wonderlike dinge gedoen vir u land toe U vir Uself hierdie volk uit Egipte vrygemaak het van ander volke en gode. 24U het u volk Israel 'n volk gemaak wat baie lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword. 25En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het. 26U moet altyd belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien. 27Want U, Here wat oor alles regeer, God van Israel, dit is U wat dit vir u dienaar gesê het. U het gesê U sal vir my 'n koningshuis bou. Dit is hoekom u dienaar hierdie gebed tot U kon bid. 28En nou, Here, my Here, U alleen is God, en U sal doen wat U gesê het. U het hierdie goeie ding gesê oor u dienaar. 29Begin nou asseblief en laat dit goed gaan met u dienaar se koningshuis, U moet altyd by die koningshuis wees. Want U, Here, my Here, het gepraat. U het gesê dit sal goed gaan, en daarom sál dit altyd goed gaan met die koningshuis van u dienaar.”