Die Israeliete aanbid die beeld van 'n bul-kalf
1Die Israeliete het gesien Moses bly baie lank op die berg. Hulle het by Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: “Kom, maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.”
2Aäron sê toe vir hulle: “Haal af die goue ringe wat aan julle vroue, julle seuns en julle dogters se ore is. Bring dit alles vir my.”
3Toe haal al die mense die goue ringe van hulle ore af en hulle bring dit vir Aäron. 4Hy het dit geneem en gesmelt. Hy het 'n beeld van 'n bul-kalf daarvan gemaak. Toe sê die Israeliete: “Hierdie is ons god, hy het ons uit Egipte gebring.”
5Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons 'n fees vir die Here.”
6Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier.
Die Here wil al die Israeliete doodmaak
7Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af van die berg en gaan na jou volk toe wat jy uit Egipte gebring het. Hulle het groot sonde gedoen. 8Hulle het gou vergeet wat Ek vir hulle gesê het. Hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bul-kalf gemaak en hulle het voor die beeld gebuig. Hulle het vir hom offers gebring en gesê: ‘Israeliete, hier is julle god, hy het julle uit Egipte gebring.’ ”
9Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig. 10Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag 'n groot volk maak.”
Moses vra die Here om nie die Israeliete dood te maak nie
11Moses het mooi gepraat met sy God die Here en Moses het Hom gesoebat om sy plan te verander. Hy het gesê: “Here, hoekom is U kwaad vir u volk? U het hulle uit Egipte gebring. U het hulle met u groot krag vrygemaak. 12As U hulle nou doodmaak, dan sal die Egiptenaars sê: ‘Die Here het die Israeliete gered, maar Hy het 'n skelm plan gehad. Hy wou hulle doodmaak in die berge en Hy wou hulle almal heeltemal wegvee van die aarde af.’ Here, moenie kwaad wees vir u volk nie. Verander asseblief u planne en moenie hulle doodmaak nie. 13U moet onthou wat U self belowe het vir u dienaars Abraham en Isak en Jakob. U het vir hulle gesê: ‘Ek sal julle nageslag so baie maak soos die sterre in die lug. Ek sal hierdie hele land vir julle nageslag gee, en dit sal altyd aan hulle behoort.’ Here, U was self die getuie toe U dit vir hulle belowe het.”
Die Here verander sy plan
14Die Here het sy plan verander en Hy het besluit om nie sy volk te straf nie. 15Moses het omgedraai en afgekom van die berg. In sy hande was die twee plat klippe waarop die tien gebooie was. Die Here het op altwee kante van die klippe geskryf, op die voorkant en op die agterkant. 16Dit was God se werk, God het self die plat klippe gemaak en Hy het self die woorde daarop geskryf.
Moses kom terug
17Josua het gehoor hoe die Israeliete skree en raas en hy het vir Moses gesê: “Daar is oorlog in die kamp!”
18Maar Moses het gesê:
“Hulle skree nie soos mense
wat gewen het
in die oorlog nie.
Hulle huil ook nie soos mense
wat verloor het nie.
Ek hoor hulle sing.”
19Toe Moses naby die kamp kom, het hy die beeld van die bul-kalf gesien en die Israeliete wat dans. Hy het toe baie kwaad geword en hy het die twee plat klippe stukkend gegooi. Die klippe het onder teen die berg geval en gebreek. 20Moses het die bul-kalf geneem wat die Israeliete gemaak het en hy het dit verbrand. Toe het hy dit fyngemaal soos poeier en hy het dit in die water gegooi. Hy het gesê die Israeliete moet die water drink.
21Moses het vir Aäron gesê: “Hierdie mense het niks verkeerd aan jou gedoen nie. Hoekom het jy hulle verlei om so 'n groot sonde te doen?”
22Aäron antwoord toe: “Meneer, moenie kwaad wees vir my nie. Jy weet self hierdie volk wil altyd verkeerde dinge doen. 23Hulle het vir my gesê: ‘Maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het vir ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.’ 24Ek het toe vir hulle gesê almal wat goue ringe het, moet dit afhaal en vir my gee. Ek het die goue ringe in die vuur gegooi en hierdie bul-kalf het daaruit gekom.”
Moses straf die volk
25Moses het gesien die volk het wild geword en verkeerd gedoen. Hy het ook gesien dit was Aäron se skuld. Hy het geweet hulle vyande sal hulle spot. 26Toe het Moses by die ingang van die kamp gaan staan en gesê: “Almal wat vir die Here iets wil doen, kom hier na my toe!”
Al die Leviete het toe by Moses kom staan. 27Hy het vir hulle gesê die Here, die God van die Israeliete, sê: “Elkeen moet sy swaard neem en deur die hele kamp gaan. Maak dood die mense, ook jou broer, jou vriend of jou buurman.”
28Die Leviete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het daardie dag omtrent 3 000 mans doodgemaak. 29Moses het vir die Leviete gesê: “Julle het julleself vandag aan die Here gewy om vir Hom te werk. Julle het julle eie seuns en broers doodgemaak. Daarom seën die Here julle vandag en maak Hy julle sy priesters.”
Moses vra die Here om die volk se sonde te vergewe
30Die volgende oggend het Moses vir die volk gesê: “Julle het sonde gedoen, 'n baie groot sonde. Maar ek sal nou na die Here toe gaan en met Hom gaan praat. Miskien sal Hy julle sonde vergewe.”
31Moses het toe teruggegaan na die Here toe en gesê: “Ag, Here, die volk het sonde gedoen, 'n baie groot sonde. Hulle het vir hulle 'n god van goud gemaak. 32Maar nou, vergewe asseblief hulle sonde. As U dit nie wil doen nie, dan moet U my naam uitvee uit die boek wat U geskryf het.”
33Die Here het vir Moses gesê: “Nee, die mense wat teen My gesondig het, dit is húlle name wat Ek sal uitvee uit my boek. 34Gaan nou, neem die Israeliete na die plek wat Ek vir jou gesê het. My engel sal vir jou wys waarnatoe julle moet gaan. Maar wanneer Ek so besluit, dan sal Ek hulle straf oor hulle sonde.”
35Die Here het die volk swaar gestraf omdat hulle die bul-kalf aanbid het wat Aäron gemaak het.