1Here, wanneer ek by U kla oor wat U doen, dan is U altyd reg en U doen altyd wat reg is, maar nou wil ek vra: Hoekom gaan dit goed met mense wat verkeerd doen en wat ontrou is aan U? 2Hulle is soos bome wat U self geplant het en wat wortels gekry het en grootgeword het en vrugte dra. Hulle noem graag u Naam, maar U is nie in hulle harte nie. 3Here, U ken my, U weet wat ek doen en hoe ek oor U dink. U moet my vyande straf, U moet hulle doodmaak soos 'n mens slagskape doodmaak. 4Hoe lank sal die land nog treur? Hoe lank sal al die gras in die veld nog droog wees? Die diere en die voëls treur omdat die mense van die land so sleg is. Die mense het gesê: “Jeremia sal dood wees voordat ons dood is.”
5Die Here het vir my gesê: “Jeremia, jy word moeg wanneer jy resies moet hardloop teen mense. Hoe sal dit met jou gaan wanneer jy teen perde moet hardloop? Jy is nie bekommerd in 'n land waar daar vrede is nie. Maar wat sal jy maak tussen die baie bome langs die Jordaan-rivier? 6Jou broers, jou eie familie, verraai jou ook en hulle sê ander mense moenie na jou luister nie. Wanneer jou familie vriendelik praat met jou, dan moet jy hulle nie glo nie.”
Ek is lief vir die volk, maar Ek het hulle vir hulle vyande gegee
7Die Here sê:
“Ek het ook weggegaan van my huis,
Ek het gesê dit behoort aan My,
maar ek wil dit nie meer hê nie.
Ek is lief vir die volk,
maar Ek het hulle vir hulle vyande gegee.
8Die volk wat aan My behoort, het vir My geword
soos 'n leeu wat in die bos vir My brul.
Daarom haat Ek hulle.
9Die volk wat aan My behoort, is soos 'n dooie dier,
'n hiëna vreet daaraan terwyl die aasvoëls wag.
Kom, maak al die wilde diere bymekaar
sodat hulle ook kan kom vreet.
10Baie konings het my mooi land verwoes,
niemand woon nou daar nie.
Hulle was soos skaapwagters wat hulle skape injaag
in 'n wingerd om alles plat te trap.
11Hulle het die land verwoes,
niemand woon nou daar nie.
Die plante in die land is droog en verlep,
en niemand is bekommerd daaroor nie.
12Die mense het gekom oor die heuwels
in die woestyn waar daar niks plante groei nie,
hulle het gekom om die land te verwoes.”
Die Here het hulle gestuur,
hulle is die swaard waarmee Hy mense doodmaak
in die hele land.
Daar is vir niemand vrede nie.
13Die mense van Juda en Jerusalem
het koring gesaai, maar hulle het dorings gekry.
Hulle het gewerk totdat hulle moeg was,
maar hulle het niks gekry nie.
Hulle het niks, want die Here is kwaad vir hulle.
14Die Here sê: “Ek praat oor die ander volke rondom my volk. Hulle het die grond gevat wat Ek vir my volk Israel gegee het. Nou sal Ek hulle wegvat uit hulle lande, en Ek sal die mense van Juda wegvat wat by hulle is. 15Maar nadat Ek hulle weggevat het, sal Ek jammer wees vir hulle en Ek sal hulle terugbring, elkeen na sy eie grond en sy eie land. 16Hulle het vir my volk geleer om Baäl te dien, maar, so seker soos Ek lewe, as hulle leer om My te dien soos my volk My dien, dan sal hulle ook my volk word. 17Maar as 'n volk nie gehoorsaam is aan My nie, dan sal Ek hulle heeltemal wegvat en laat sterf.”
Dit het die Here gesê.