Joganan en sy mense vlug na Egipte en hulle vat vir Jeremia saam
1Al die offisiere en Joganan en Jesanja seun van Hosaja en al die ander mense, onbelangrike en belangrike mense, het na die profeet Jeremia toe gekom 2en hulle het vir hom gesê: “Ons vra asseblief, jy moet vir ons bid tot jou God die Here, bid vir ons wat nog lewe. Ons was baie mense, maar jy kan sien ons is nou min. 3Jou God die Here moet vir ons sê waarnatoe ons moet gaan en wat ons moet doen.”
4Die profeet Jeremia het vir hulle gesê: “Ek het gehoor wat julle vra. Goed, ek sal dit vra vir julle God die Here en ek sal vir julle alles sê wat die Here vir julle antwoord, ek sal alles sê wat Hy sê.”
5Húlle antwoord toe vir Jeremia en sê: “Die Here moet die getuie wees. Hy hoor wat ons sê, en Hy sal doen wat Hy sê. As Hy jou na ons toe stuur en ons doen nie alles wat Hy sê nie, dan moet Hy ons straf. 6Ons het jou gestuur na ons God die Here toe en ons sal doen wat Hy sê, dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie. Ons weet dit sal goed gaan met ons as ons doen wat ons God die Here sê.”
7Tien dae later het Jeremia gehoor die Here praat met hom. 8Hy het na Joganan toe gegaan en na al die offisiere wat by hom was, en hy het al die mense geroep, die onbelangrike en die belangrike mense. 9Hy het vir hulle gesê: “Julle het my gestuur na die Here toe, die God van Israel, om vir Hom te sê wat julle vra. Die Here sê: 10As julle aanhou woon in hierdie land, dan sal Ek julle bou, Ek sal julle nie afbreek nie. Ek sal julle plant, Ek sal julle nie uitruk nie, want Ek is jammer dat Ek julle laat swaarkry het. 11Julle moenie bang wees vir die koning van Babel nie, julle moenie bang wees nie, want Ek is by julle om julle te red en julle vry te maak van hom. 12Ek sal genadig wees vir julle, en dan sal hy vir julle genadig wees en julle terugbring na julle land.
13“Maar as julle sê julle wil nie in hierdie land bly nie, as julle nie wil doen wat julle God die Here vir julle sê nie, dan sal dit sleg gaan met julle. 14Julle sê: ‘Nee, ons wil na Egipte gaan. Daar sal nie oorlog wees nie, ons sal nie die ramshoring hoor blaas nie. En ons sal genoeg kos hê. Ons wil daar gaan woon.’ 15-16Dit is wat julle sê, maar dan moet julle nou luister na wat die Here vir julle sê wat oorgebly het van die mense van Juda. Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Julle was bang vir oorlog. As julle vas besluit het om na Egipte te gaan en om daar vreemdelinge te wees, dan sal die oorlog daar in die land Egipte na julle toe kom. En julle is bekommerd dat julle honger sal wees, maar die honger sal daar altyd by julle wees. 17Al die manne wat besluit om na Egipte te gaan en daar vreemdelinge te wees, sal sterf in oorlog of van honger of pes. Nie een sal kan vlug en wegkom van die swaarkry wat Ek oor hulle sal bring nie. 18Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Ek het kwaad geword vir die mense van Jerusalem en Ek het hulle gestraf. So sal Ek kwaad word vir julle en Ek sal julle straf as julle na Egipte gaan. Die mense sal julle name gebruik wanneer hulle ander mense wil vervloek of laat skrik of verneder of spot. En julle sal hierdie plek nooit weer sien nie.
19“Mense van Juda, die Here sê vir julle wat nog lewe, julle moenie na Egipte gaan nie. Julle moet goed besef ek waarsku julle vandag. 20Want julle maak 'n fout, en dit kan julle laat sterf. Júlle het my na julle God die Here toe gestuur en julle het vir my gevra: ‘Bid vir ons tot ons God die Here. Jy moet vir ons alles sê wat Hy sê, en ons sal dit doen.’ 21Maar toe ek vandag vir julle die boodskap van julle God bring, het julle nie geluister na Hom nie. 22Daarom moet julle weet dat julle sal sterf in oorlog en van honger en pes in die land waarnatoe julle wil gaan en waar julle vreemdelinge wil wees. Dit is seker.”