Elifas praat met Job
1Elifas van die land Teman het begin praat. Hy het gesê:
2“Job, jy sal miskien nie daarvan hou
dat ek vir jou iets probeer sê nie.
Maar ek kan nie stilbly nie.
3Luister na my, jy het vir baie mense geleer
hoe hulle moet lewe,
jy het mense wat moedeloos was,
weer sterk gemaak,
4Party mense wou val, maar jy
het hulle gehelp om regop te bly,
jy het hulle sterk gemaak om
aan te hou lewe.
5Maar nou gaan dit sleg met jóú,
en nou is jy moedeloos,
nou gebeur dit met jou,
en nou is jy bang.
6Jy het altyd vir God gedien,
jy was 'n goeie man,
jy het heeltemal reg gelewe.
Daarom moet jy nou hoop
en weet dat dit weer beter sal gaan.
7Dink 'n bietjie hieroor:
Is daar iemand wat onskuldig was
en gesterf het?
Is daar 'n eerlike mens
wat verdwyn het?
8Ek sien dat dit sleg gaan
met die mense wat slegte dinge doen,
ek sien dat die mense wat ander mense
wil laat swaarkry, self swaarkry.
9God word kwaad vir hulle,
en hulle sterf,
God vee hulle weg van die aarde.
10Leeus kan brul en raas,
maar as 'n leeu sy tande verloor,
11dan kan hy niks vang nie,
dan gaan hy dood van die honger,
en sy welpies loop oral rond.
12“Ek het gehoor dat iemand sag praat,
ek kon nie baie goed hoor wat hy sê nie.
13Dit was toe ek gedroom het,
toe almal vas geslaap het.
14Ek het geskrik en ek het
bang geword,
my hele liggaam het gebewe.
15'n Wind het oor my gewaai,
die hare op my liggaam
het regop gestaan.
16Daar het iemand gestaan,
ek kon nie sien wie hy is nie,
maar ek het gehoor dat hy sê:
17‘Sal God kan sê dat 'n mens reg lewe?
Sal 'n mens onskuldig kan wees
voor die Een wat hom gemaak het?
18Nee, God weet
dat sy dienaars in die hemel
nie altyd doen wat hulle moet doen nie,
Hy weet dat sy engele ook foute maak.
19Die mense wat Hy gemaak het
van klei en van stof,
maak nog meer foute,
'n mens kan daardie mense plat druk
soos motte.
20Mense sterf elke dag,
hulle verdwyn vir altyd,
en niemand sien dit nie.
21Hulle sterf en hulle is weg
en hulle het nie wysheid gekry nie.’