Saul maak oorlog teen die Ammoniete
1Nagas die Ammoniet het sy tente opgeslaan by die stad Jabes in Gilead. Hy wou oorlog maak teen die mense van die stad. Die leiers van die mense in Jabes het vir Nagas gesê: “As jy 'n ooreenkoms maak met ons, dan mag jy oor ons regeer.”
2Die Ammoniet Nagas het vir hulle gesê: “Ek sal 'n ooreenkoms maak met julle, maar ek sal eers elkeen van julle se regter-oog uitsteek, want ek wil hê al die Israeliete moet skaam wees vir julle.”
3Die leiers van die mense in Jabes het vir Nagas gesê: “Los ons sewe dae lank sodat ons boodskappers kan stuur deur die hele land Israel. As niemand ons red nie, dan sal ons uitkom na jou toe en 'n ooreenkoms maak.”
4Toe die boodskappers in die stad Gibea-van-Saul kom en vir die mense daar alles vertel, het al die mense hard begin huil. 5Saul het dieselfde tyd uit die veld teruggekom met die beeste en hy vra toe: “Hoekom huil die mense?”
Hulle het vir hom vertel wat die manne van Jabes kom sê het. 6Toe Saul dit hoor, het die Gees van God in hom gekom. Saul was baie kwaad. 7Hy het 'n paar beeste gevat en hy het hulle in stukke gesny. Hy het die stukke met boodskappers gestuur na al die plekke in die land Israel. Die boodskappers moes vir die mense sê: “Julle almal moet kom om saam met Saul en Samuel te gaan. As iemand nie kom nie, dan sal ons sy beeste ook so in stukke sny.”
Die mense het groot geskrik en hulle het almal gekom. 8Saul het hulle by die stad Besek laat bymekaarkom en hy het hulle getel. Daar was 300 000 manne van Israel en 30 000 manne van Juda. 9Saul het vir die boodskappers wat gekom het, gesê: “Julle moet vir die mense van Jabes in Gilead sê dat ek hulle môre sal red wanneer die son warm is.”
Toe die boodskappers by die mense van Jabes kom en dit vir hulle vertel, was hulle baie bly 10en hulle het vir die Ammoniete gesê: “Môre sal ons uitkom na julle toe, en dan kan julle met ons doen wat julle wil.”
11Saul het die volgende oggend sy manne in drie groepe verdeel. Hulle het vroeg die oggend in die Ammoniete se kamp ingekom en hulle het die Ammoniete oorwin. Hulle het aangehou veg tot die middag, en hulle het die Ammoniete wat oorgebly het, na al die kante toe gejaag, daar was nie twee wat bymekaar gebly het nie. 12Die manne het toe vir Samuel gesê: “Wie het gesê Saul moenie hulle koning wees nie? Gee daardie manne, ons wil hulle doodmaak.”
13Maar Saul het gesê: “Ons sal vandag niemand doodmaak nie, want die Here het vandag die Israeliete gered.”
14Daarna het Samuel vir die manne gesê: “Kom ons gaan na die stad Gilgal en ons maak weer vir Saul koning.”
15Al die manne het toe na Gilgal gegaan en hulle het daar by die tempel vir Saul koning gemaak. Hulle het daar ete-offers vir die Here gebring, en Saul en al die manne van Israel het baie gelukkig gevoel.