Dawid in die woestyn by En-Gedi
1Dawid het weggegaan uit die Maon-woestyn en hy het in die berge by die stad En-Gedi gaan bly. 2Toe Saul terugkom nadat hy teen die Filistyne gaan veg het, het die mense vir hom gesê dat Dawid in die woestyn by En-Gedi is. 3Saul het 3 000 manne uit al die Israeliete gekies en hulle het vir Dawid en sy manne gaan soek. Hulle was naby die Klipbok-rotse. 4Saul het by skaapkrale gekom en daar was 'n grot. Hy het in die grot ingegaan om hom te ontlas. Dawid en sy manne het agter in die grot gesit. 5Dawid se manne sê toe vir hom: “Die Here sê vandag vir jou: ‘Ek gee jou vyand vir jou, daar is hy. Jy mag met hom doen wat jy wil.’ ”
Dawid het nader gegaan en hy het stilletjies 'n punt van Saul se bo-kleed afgesny. 6Maar daarna was hy jammer dat hy dit gedoen het. 7Hy het vir sy manne gesê: “Die Here moet my keer, ek wil niks verkeerd doen aan my koning nie, hy is die gesalfde van die Here. Ek wil nie iets verkeerd doen teen hom nie, want hy is die gesalfde van die Here.”
8Dawid het met sy manne gepraat en hy het hulle gekeer, hulle het nie vir Saul aangeval nie. Saul het klaargemaak en toe het hy uitgegaan uit die grot en verder gegaan. 9Dawid het daarna opgestaan en uitgegaan uit die grot en hy het vir Saul geskree: “Meneer die koning!”
Toe Saul omkyk, het Dawid gekniel en laag gebuig, sy gesig was teen die grond. 10Dawid het vir Saul gesê: “Hoekom luister jy wanneer mense sê ek is jou vyand? 11Jy het self gesien die Here het jou vandag vir my gegee daar in die grot, en as ek wou, dan kon ek jou doodgemaak het. Maar ek het jou nie doodgemaak nie, ek het gesê ek sal nie iets verkeerd doen teen my koning nie, want jy is die gesalfde van die Here.
12“My vader, kyk hier, hier is die punt van jou bo-kleed in my hand. Ja, ek het die punt van jou bo-kleed afgesny, maar ek het jou nie doodgemaak nie. Jy kan sien ek is nie jou vyand nie, en jy moet dit weet, maar jy jaag my om my dood te maak. 13Ek bid dat die Here sal sê wie het reg gedoen, ek of jy. Ek bid ook dat Hy jou sal straf oor wat jy aan my doen, maar ek self sal niks doen teen jou nie. 14Die mense sê altyd: ‘Slegte mense doen slegte dinge,’ maar ek self sal niks doen teen jou nie. 15Nou vra ek: Hoekom het jy, die koning van Israel, vir my gevolg en gejaag? Want ek beteken niks, ek is soos 'n dooie hond, soos 'n vlooi. 16Die Here sal die regter wees, Hy sal sê wie het reg gedoen, ek of jy. Hy sal sien en Hy sal vir my 'n getuie wees teen jou. Hy sal sê ek het reg gedoen.”
17Toe Dawid dit klaar vir Saul gesê het, het Saul gevra: “My seun Dawid, is dit jy wat praat?”
En Saul het hard begin huil. 18Hy het vir Dawid gesê: “Jy is reg, ek het verkeerd gedoen. Jy het goed gedoen aan my en ek het slegte dinge gedoen aan jou. 19Jy het vandag gewys dat jy goed doen aan my. Jy het my nie doodgemaak toe die Here my vir jou gegee het nie. 20Niemand sal sy vyand vry laat weggaan wanneer hy hom kry nie, maar jy het dit met my gedoen. Ek bid dat die Here goed sal wees vir jou. 21En nou, ek weet baie goed dat jy koning sal word en dat jy lank koning sal wees. 22Jy moet vir my belowe dat jy nie my nageslag sal doodmaak en nie my naam sal laat verdwyn uit my familie nie. Die Here moet die getuie wees.”
23Dawid het dit vir Saul belowe, en Saul het na sy huis gegaan. Dawid en sy manne het opgegaan in die berge.