Die lied
1Moses het gesê:
“Hemel, jy moet luister,
ek wil praat,
die aarde moet hoor wat ek sê.
2Ek bid dat die dinge
wat ek vir die mense leer,
sal wees soos reën wat drup,
ek bid dat die dinge wat ek sê,
sal wees soos sagte reën op gras,
soos reën op groen plante.
3Want ek wil skree en die Naam
van die Here sê,
ek wil sê dat die Here groot
en goed is.
4Hy is die Rots, sy werk
is heeltemal reg,
Hy doen altyd reg.
Hy is 'n God wat altyd
dieselfde bly,
Hy doen niks verkeerd nie,
Hy is regverdig en eerlik.
5Maar sy volk het ontrou
geword aan Hom,
hulle is nie meer sy kinders nie,
hulle is onrein en vals,
hulle kan net verkeerd doen,
nie reg nie.
6Julle is dwase mense,
julle het nie wysheid nie,
is dit wat julle doen
aan die Here?
Hy is julle Vader,
Hy het julle gemaak.
Hy self het julle gemaak en Hy
het vir julle die lewe gegee.
7Julle moet onthou hoe dit
lank gelede was,
julle moet dink aan die jare
wat lank verby is.
Julle moet vir julle ouers vra,
sodat hulle vir julle kan vertel,
julle moet vir die oumense vra,
húlle sal vir julle sê hoe dit was.
8Toe die Hoogste God
vir die volke hulle lande
gegee het,
toe Hy gesê het dat die mense
aan verskillende volke
moet behoort,
toe het Hy gesê waar die grense
van die lande moet wees.
Hy het gekyk hoeveel Israeliete
daar is,
en Hy het besluit hoeveel volke
daar moet wees.
9Maar die Here het sy éie volk
gekies,
Jakob behoort aan Hom.
10Die Here het sy volk
in die woestyn gekry,
in 'n wilde wêreld waar niemand
woon nie.
Hy beskerm sy volk
en Hy sorg vir hulle,
Hy pas hulle op soos 'n mens
sy oog oppas.
11'n Arend stoot sy kleintjies
uit die nes
en hy vlieg bokant hulle,
hy maak sy vlerke oop
en vang die kleintjies en dra
hulle op sy vlerke.
12So lei die Here sy volk,
Hy alleen doen dit,
daar is nie 'n ander god
by Hom nie.
13Hy het hierdie land vir sy volk
gegee om dit te vat.
Hulle kon die koring eet
wat op die lande groei,
hulle kon heuning uithaal
uit die byneste in die rotse,
hulle kon die olyf-olie kry
van die olyfbome
tussen die klippe.
14Hulle het melk gekry
van beeste, skape en bokke,
hulle het vet vleis gekry
van skaap-lammers
en skaap-ramme,
en vleis van bokke en beeste
uit die land Basan.
Hulle het die beste koring geëet
en die beste rooi wyn gedrink.
15Jesurun het vet
en opstandig geword.
Ja, julle het vet en dik geword,
spekvet.
Hulle het vir God gelos,
God wat vir hulle gemaak het.
Hulle was dom en opstandig
teen die Rots wat vir hulle
gered het.
16Hulle het vir God
kwaad gemaak toe hulle
gode van ander volke
gedien het.
Hulle het vir God
hartseer gemaak toe hulle
dinge gedoen het
wat Hy haat.
17Hulle het ge-offer
vir veldgode wat nie gode
is nie,
hulle het ge-offer vir gode
wat hulle nie geken het nie,
vir nuwe gode wat hulle
voorvaders nie geken het nie.
18Julle het die Rots vergeet,
maar die Rots is julle Vader,
julle is God se kinders,
maar julle het Hom vergeet.
19Toe die Here dit sien,
was Hy hartseer oor sy seuns
en sy dogters,
Hy het hulle gelos.
20Hy het gesê: ‘Ek wil hulle
nie meer sien nie,
en Ek wil kyk hoe dit nou
met hulle sal gaan.
Hulle is slegte mense,
hulle is heeltemal ontrou.
21Hulle het My kwaad gemaak
toe hulle gode gedien het
wat nie gode is nie.
Hulle het My hartseer gemaak
toe hulle beelde gemaak het,
beelde wat niks beteken nie.
Nou sal Ek hulle kwaad maak
en Ek sal vir My 'n volk kies
wat nie 'n volk is nie,
Ek sal hulle hartseer maak
en Ek sal vir My 'n volk kies
wat dwaas is.
22Ek is kwaad,
dit is soos 'n vuur wat brand
tot in die doderyk
daar onder,
'n vuur wat die aarde verbrand
en alles wat uit die aarde kom,
'n vuur wat tot onder
die berge brand.
23Ek sal hulle laat swaarkry,
dit sal aanhou sleg gaan
met hulle,
Ek sal hulle skiet met al my pyle.
24Hulle sal flou word van honger,
hulle sal pes kry,
hulle sal nie gesond
kan word nie,
wilde diere sal hulle opvreet
en giftige slange
sal hulle pik.
25Daar sal oorlog wees
in die strate,
mense sal bang wees
en wegkruip in hulle kamers.
Niemand sal vry wegkom nie,
nie jongmans
of jongmeisies nie,
nie babas of oumense nie.
26Ek het gedink Ek sal hulle
almal laat sterf,
niemand moet onthou
dat hulle gelewe het nie.
27Maar Ek het gedink miskien
sal die vyande spot
en hulle sal die dinge
wat gebeur het,
verkeerd verstaan.
Hulle sal miskien spog en sê:
“Ons het hulle self oorwin,
die Here het dit nie gedoen nie.” ’
28Ja, die vyande verstaan dit nie,
hulle is nie verstandig nie.
29As hulle wysheid gehad het,
dan sou hulle verstaan het
wat gebeur het
en hulle sou geweet het
wat later nog sál gebeur.
30Een man van die vyand
het 1 000 Israeliete gevolg
en gejaag,
twee manne van die vyand
het 10 000 Israeliete laat vlug.
Maar dit het gebeur omdat
die Rots van die Israeliete
hulle verkoop het,
omdat die Here hulle gelos het.
31Ja, die Here is ons Rots,
die vyande het nie so 'n rots nie,
dit moet hulle weet.
32Hulle is soos 'n wingerdstok
wat in Sodom en Gomorra
gegroei het,
'n wingerdstok wat giftige
druiwe dra.
33Uit daardie druiwe
kom daar wyn
wat so giftig is soos slange,
dit is wyn wat mense laat sterf.
34Die Here sê: ‘Ek sal besluit
wanneer Ek hulle sal straf.
35Ek sal die vyande straf
oor wat hulle gedoen het,
hulle voete gly,
hulle sal gou val.
Die dinge wat met hulle
sal gebeur, sal gou gebeur.’
36Ja, die Here sal reg doen
aan sy volk,
Hy sal genadig wees
vir sy dienaars wanneer Hy
sien dat hulle swak is
en dat min van hulle nog lewe.
37Hy sal vra:
‘Waar is julle gode nou,
die gode wat julle
moet beskerm?
38Waar is die gode wat die vet
van julle offers eet
en die wyn van julle
drank-offers drink?
Hulle moet nou begin
om julle te help,
hulle moet julle beskerm.
39Julle moet nou weet:
Dit is Ek, net Ek.
Daar is nie nog 'n God nie,
net Ek is God.
Ek maak dood en Ek laat lewe,
Ek maak siek
en Ek maak gesond.
Niemand kan my volk wegvat
van My nie.
40Ek tel my hand op na die hemel
en Ek belowe, so seker
soos Ek altyd sal lewe:
41Ek sal my swaard skerpmaak
en Ek sal dit styf vashou
in my hand.
Ek sal my vyande straf oor alles
wat hulle gedoen het,
Ek sal die mense straf
wat My haat.
42Wanneer Ek my pyle skiet
en met my swaard kap,
dan sal daar baie bloed vloei.
Baie mense sal gevangenes
word en hulle sal sterf,
en die leiers van die vyande
sal ook sterf.’
43Die ander volke moet die volk
van die Here prys,
want die Here sal almal straf
wat sy dienaars
doodgemaak het,
Hy sal sy vyande straf oor wat
hulle gedoen het,
Hy sal versoening doen
vir sy land en sy volk.”
44Moses het gekom en hy het al die woorde van hierdie lied vir die volk gesê, hy en Hosea seun van Nun.
45Nadat Moses dit alles klaar gesê het vir al die Israeliete, 46het hy vir hulle gesê: “Julle moet alles goed onthou wat ek vandag vir julle gesê het. Julle moet vir julle kinders sê dat hulle alles moet doen wat hierdie wette sê, 47want dit is belangrik vir julle, dit sal julle laat aanhou lewe en julle sal lank lewe in die land oorkant die Jordaan-rivier, die land waarnatoe julle gaan om dit vir julleself te vat.”
Die Here sê Moses sal sterf
48Die Here het daardie selfde dag vir Moses gesê: 49“Jy moet opgaan teen die Abarim-berge, teen die Nebo-berg in die land Moab oorkant Jerigo, en jy moet kyk na die land Kanaän wat Ek vir die Israeliete gee om aan hulle te behoort. 50Daarna moet jy sterf op die berg waarteen jy opgegaan het, soos jou broer Aäron ook op Hor-berg gesterf het. 51Dit sal gebeur omdat julle altwee ontrou was aan My by die water van Meriba-Kades in die Sin-woestyn. Die Israeliete het dit gesien. Julle het nie vir die Israeliete gewys dat julle My eer omdat Ek die heilige God is nie. 52Ja, jy mag hier staan en jy mag na die land kyk, maar jy sal nie ingaan in die land wat Ek vir die Israeliete gee nie.”