Die Here sal die leiers van Jerusalem straf
1Die Gees het my opgetel en gebring tot by die poort oos van die tempel, die poort wat by die oostekant is. Daar was 25 mans by die ingang van die poort. Ek het vir Jaäsanja seun van Assur en vir Pelatja seun van Benaja tussen hulle gesien. Hulle was leiers van die volk. 2Die Here het vir my gesê: “Mens, hierdie manne is die manne wat verkeerde planne maak en wat vir die mense in hierdie stad sê watter slegte dinge hulle moet doen. 3Hulle sê: ‘Ander mense moenie hier huise bou nie. Die stad is die pot en ons is die vleis wat in die pot moet wees, net ons.’ 4Daarom, mens, jy moet vir hulle sê wat Ek sê, jy moet dit sê.”
5Toe kom die Gees van die Here in my en Hy sê vir my: “Jy moet vir hulle sê dat die Here sê: Volk Israel, dit is wat julle gesê het. Ek weet wat julle dink. 6Julle het baie mense in hierdie stad vermoor, julle het die strate vol lyke gemaak.”
7Die Here, Hy wat Here is, sê: “Julle het dit gedoen, julle het die mense in die stad vermoor. Daarom is húlle die vleis, en die stad is die pot. Maar vir júlle sal Ek uit die stad uitgooi. 8Julle was bang vir oorlog, en nou sal Ek oorlog oor julle bring.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
9“Ek sal julle uit die stad uitgooi. Ek sal ander volke bring om oorlog te maak teen julle en Ek sal hulle laat wen. Ek sal julle straf. 10Julle sal op die grens van die land Israel in die oorlog sterf. Ek sal julle straf, en julle sal weet dat Ek die Here is. 11Die stad sal nie vir julle die pot wees en julle sal nie die vleis in die pot wees nie. Ek sal julle straf op die grens van die land Israel. 12Dan sal julle weet dat Ek die Here is. Julle het nie gelewe soos Ek gesê het nie en julle het nie gedoen wat Ek wou hê nie, julle het gedoen wat die heidene wou hê, die heidene wat rondom julle woon.”
Die Here sal die mense van Juda wat in Babel is, laat terugkom
13Terwyl ek besig was om te sê wat die Here sê, het Pelatja seun van Benaja gesterf. Ek het gaan lê met my gesig teen die grond. Ek het hard geskree en gevra: “Ag, Here, U wat Here is, is U besig om almal van Israel wat nog lewe, te laat sterf?”
14Toe hoor ek die Here sê vir my: 15“Mens, die mense wat in Jerusalem woon, praat van jou broers, van jou mense wat in Babel woon, en van die hele volk Israel. Hulle praat van almal en hulle sê: ‘Hulle almal is ver weg van die Here. Hy het hierdie land vir óns gegee, dit is nou ons land.’ 16Daarom moet jy sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het hulle ver weggevat na die heidene toe en Ek het hulle oral in ander lande laat woon. Toe het Ek self vir hulle 'n bietjie soos 'n tempel geword in elke land waar hulle gekom het. 17Daarom moet jy vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Ek het julle na baie lande laat gaan, maar Ek sal julle bymekaarmaak uit daardie volke, Ek sal julle laat bymekaarkom uit al daardie lande. Ek sal weer die land Israel vir julle gee. 18Dan sal hulle hiernatoe kom en hulle sal al die slegte, lelike goed wat Ek haat, wegvat uit die stad. 19Ek sal vir hulle 'n ander hart gee, en daar sal 'n nuwe gees in hulle wees. Ek sal die klip-harte uit hulle liggame wegvat en Ek sal vir hulle vleis-harte gee. 20Dan sal hulle lewe soos Ek sê en hulle sal doen wat Ek wil hê. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees. 21Maar die mense wat aanhou om die slegte, lelike dinge te doen wat Ek haat, dit is vir húlle wat Ek sal straf oor wat hulle gedoen het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. 22Die gerubs het hulle vlerke opgetel, en die wiele was langs die gerubs. Die lig wat om die God van Israel is, was bokant die gerubs. 23Die lig wat om die Here is, het in die lug opgegaan uit die stad en dit het bly staan op die berg oos van die stad. 24Die Gees het my opgetel en Hy het my gebring na die land van die Galdeërs, na die Judeërs toe in Babel. Dit was alles dinge wat die Gees van God vir my gewys het. Hy het die dinge klaar vir my gewys. 25Ek het toe vir die Judeërs in Babel alles vertel wat die Here vir my gewys het.