Josua stuur spioene na die stad Jerigo
1Josua seun van Nun het twee mans uit die stad Sittim gestuur om spioene te wees. Niemand anders het geweet dat hy hulle gestuur het nie. Hy het gesê hulle moet gaan kyk hoe die land en die stad Jerigo is.
Hulle het gegaan en hulle het by die huis van 'n prostituut gekom. Hulle het daar geslaap. Die prostituut se naam was Ragab.
2Iemand het vir die koning van Jerigo gaan sê: “Daar het vannag Israeliete hiernatoe gekom om te kyk hoe die land is.”
3Die koning van Jerigo het toe vir Ragab laat weet: “Jy moet die mans uitbring wat na jou huis gekom het, want hulle het gekom om te kyk hoe die land is.”
4Ragab het die twee mans weggesteek en sy het vir die koning laat weet: “Dit is waar, die mans het na my toe gekom, maar ek weet nie van waar hulle gekom het nie. 5Hulle het geloop toe dit donker word en toe die wagte die poort gesluit het. Ek weet nie waarnatoe hulle gegaan het nie. Julle moet hulle dadelik volg en jaag, julle sal hulle kry.”
6Maar Ragab het die mans opgeneem op die dak en sy het hulle weggesteek onder droë vlas wat sy daar oopgegooi het. 7Die manne van Jerigo het gehardloop op die pad na die Jordaan-rivier tot by die driwwe, en toe hulle uit die stad gegaan het, het die wagte die poort gesluit. Die manne het gedink die spioene is voor hulle op die pad. 8Ragab het opgegaan na die spioene op die dak voordat hulle aan die slaap geraak het. 9Sy het vir hulle gesê: “Ek weet die Here sal die land vir julle gee. Ons is baie bang vir julle, en al die mense van die land is baie bang vir julle. 10Want ons het gehoor dat die Here vir julle gehelp het en die Riet-see droog laat word het toe julle uit die land Egipte gekom het. Ons weet ook wat julle gedoen het met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete anderkant die Jordaan-rivier. Julle het hulle en hulle mense almal doodgemaak. 11Toe ons dit hoor, het ons baie bang geword, niemand van ons dink dat ons teen julle kan wen nie. Julle God die Here, Hý is die God in die hemel daarbo en op die aarde hier onder. 12Julle moet nou vir my belowe, en die Here moet die getuie wees. Ek was goed vir julle. Julle moet belowe dat julle vir my familie ook goed sal wees en julle moet vir my wys dat julle dit sal doen. 13Julle moenie my ouers en my broers en susters doodmaak nie, julle moet niks vat wat aan hulle behoort nie, julle moet keer sodat julle mense ons nie doodmaak nie.”
14Die mans het vir haar gesê: “As julle sterf, dan moet ons ook sterf. As julle nie sê wat ons hier kom doen het nie, en as die Here die land vir ons gee, dan sal ons ook goed wees vir julle, ons sal doen wat ons belowe.”
15Ragab het die twee mans toe met 'n tou deur die venster laat sak, want haar huis was op die muur van die stad, sy het op die muur gewoon. 16Sy het vir die twee mans gesê: “Julle moet na die berge gaan, sodat die mense wat vir julle soek, julle nie kan kry nie. Julle moet drie dae lank daar wegkruip, daarna kan julle teruggaan op dieselfde pad wat julle gekom het.”
17Die mans het vir haar gesê: “Ons sal doen wat ons vir jou belowe het. 18Maar wanneer ons die land aanval, dan moet jy hierdie rooi tou vasbind aan die venster waar jy ons laat afsak het, en jy moet jou ouers en broers, jou hele familie, in jou huis laat bymekaarkom. 19As 'n persoon uit jou huis buitetoe gaan, en ons mense maak hom dood, dan sal dit sy eie skuld wees. Maar dit sal ons skuld wees as ons mense iemand doodmaak wat in jou huis is. 20En as jy sê dat ons hier was, dan sal ons nie doen wat ons belowe het nie.”
21Sy het toe gesê: “Dit is goed.”
Sy het hulle toe laat gaan en sy het die rooi tou aan die venster vasgebind.
22Die twee mans het na die berge gegaan en hulle het drie dae lank daar gebly, totdat die manne wat vir hulle gaan soek het, teruggekom het. Die manne het gesoek op die hele pad na die Jordaan-rivier, maar hulle het nie die twee mans gekry nie. 23Die twee mans het toe afgekom van die berg en hulle het oor die rivier gegaan. Toe hulle by Josua seun van Nun kom, het hulle vir hom alles vertel wat met hulle gebeur het. 24Hulle het vir Josua gesê: “Die Here sal die land vir ons gee, dit is seker, en die mense van die land is ook al klaar baie bang vir ons.”