Die Gibeon-mense
1Al die konings wes van die Jordaan-rivier het gehoor wat gebeur het. Die konings het gewoon in die berge en in die Laeveld en langs die Groot See tot teen die Libanon-berg. Hulle was die konings van die Hetiete, die Amoriete, die Kanaäniete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete. 2Die konings het bymekaargekom om saam oorlog te maak teen Josua en die Israeliete.
3Die mense wat in die stad Gibeon gewoon het, het gehoor wat Josua gedoen het met die stede Jerigo en Ai. 4Hulle maak toe self 'n slim plan. Hulle het besluit om te maak of hulle boodskappers is. Hulle het ou saalkleedjies geneem vir hulle donkies, en ou wynsakke wat geskeur het en wat hulle toegebind het. 5Hulle het ou sandale aangetrek wat hulle reggemaak het, en hulle het ou klere gedra. Hulle padkos was droë krummels. 6Hulle het na Josua toe gegaan in die kamp by Gilgal en hulle het vir hom en die leiers van die Israeliete gesê: “Ons kom van 'n ver land, en nou moet julle 'n ooreenkoms maak met ons.”
7Die leiers van die Israeliete het vir die Hewiete gesê: “Julle woon miskien hier naby ons, en dan kan ons nie 'n ooreenkoms maak met julle nie.”
8Hulle sê toe vir Josua: “Ons sal vir julle werk.”
Josua vra toe: “Wie is julle en van waar kom julle?”
9Hulle het vir hom gesê: “Ons kom van 'n baie ver land. Maar ons het die Naam van jou God die Here gehoor, en ons het gehoor van alles wat Hy in Egipte gedoen het. 10Ons het ook gehoor van alles wat Hy gedoen het aan die twee konings van die Amoriete oos van die Jordaan-rivier: koning Sihon van Gesbon en koning Og van Basan. Og het in Astarot gewoon. 11Ons leiers en al die mense in ons land het vir ons gesê: ‘Julle moet padkos saamneem en julle moet na die Israeliete toe gaan en vir hulle sê: “Ons wil vir julle werk, daarom moet julle 'n ooreenkoms maak met ons.” ’ 12Kyk ons brood, dit was warm toe ons dit uit ons huise saamgeneem het en na julle toe gekom het, en kyk, nou is dit droë krummels. 13Hierdie wynsakke was nuut toe ons hulle volgemaak het, en kyk, hulle het gebars. En hier is ons klere en ons sandale, hulle het oud geword op die lang pad waar ons geloop het.”
14Die Israeliete het van die padkos geëet, maar hulle het nie vir die Here gevra wat hulle vir die boodskappers moet sê nie. 15Josua het vrede gemaak met die Gibeon-mense. Hy het 'n ooreenkoms gemaak met hulle en gesê dat hy hulle nie sal doodmaak nie. Die leiers van die volksvergadering het dit belowe en hulle het gesê die Here is die getuie. 16Maar drie dae nadat hulle die ooreenkoms gemaak het, het hulle gehoor dat dit mense is wat baie naby woon. 17Toe die Israeliete verder gaan, het hulle op die derde dag by die stede van die Gibeon-mense gekom. Die stede was Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim. 18Maar die Israeliete het nie die Gibeon-mense doodgemaak nie, want die leiers van die volksvergadering het belowe dat hulle dit nie sal doen nie, en hulle het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Die hele volksvergadering het hulle leiers beskuldig, 19maar al die leiers het vir hulle gesê: “Ons het self vir hulle belowe dat ons hulle nie sal doodmaak nie en ons het gesê die Here, die God van Israel, is die getuie. Daarom kan ons hulle nie nou aanval nie. 20Ons moet doen wat ons belowe het, ons moet hulle laat lewe. As ons dit nie doen nie, dan sal die Here kwaad word vir ons, want ons het belowe en ons het gesê Hy is die getuie.”
21Die leiers het vir die Israeliete gesê hulle moet die Gibeon-mense laat lewe, maar die Gibeon-mense moes van toe af hout kap en water skep vir al die Israeliete. Die leiers het vir hulle gesê hulle moet dit doen. 22Josua het die Gibeon-mense geroep en hy het vir hulle gesê: “Julle woon hier naby ons. Hoekom het julle ons bedrieg? Hoekom het julle vir ons gesê julle woon baie ver van ons? 23Daarom vervloek ek julle nou. Julle sal altyd slawe moet wees, julle sal die hout moet kap en die water moet skep vir die tempel van my God.”
24Die Gibeon-mense sê toe vir Josua: “Ons het dit gedoen omdat ons gehoor het dat jou God die Here vir sy dienaar Moses gesê het dat Hy die hele land vir julle gee en dat Hy almal in die land sal doodmaak om plek te maak vir julle. Toe ons dit hoor, het ons baie bang geword. Ons was bang dat julle ons sal doodmaak, daarom het ons hierdie ding gedoen. 25Hier is ons nou, jy kan met ons doen wat jy besluit.”
26Josua het toe dít gedoen: Hy het gekeer sodat die Israeliete nie die Gibeon-mense doodmaak nie, 27maar hy het gesê die Gibeon-mense moet van daardie dag af hout kap en water skep vir al die Israeliete en vir die altaar van die Here. Hulle moes dit doen op die plek wat die Here sal kies. Hulle doen dit nou nog.