Dawid se oorwinning oor die Amalekiete
1Toe Dawid en sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n strooptog uitgevoer in die Negev en in Siklag. Hulle het Siklag aangeval en afgebrand. 2Hulle het die vroue wat daarin was, weggevoer, van die kleinste tot die grootste. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar hulle voor hulle uit aangejaag en padgegee. 3Toe Dawid en sy manne by die dorp aankom – daar is die dorp afgebrand en die vroue en seuns en dogters weggevoer! 4Dawid en die manskappe by hom het hard begin skreeu en gehuil totdat daar nie meer krag in hulle oor was om te huil nie. 5Die twee vroue van Dawid, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer. 6Dawid was erg in die noute, want die manskappe het gedreig om hom te stenig. Al die manskappe was immers bitter ontsteld, elkeen oor sy seuns en dogters. Maar Dawid het krag gevind by die Here sy God.
7Dawid sê toe vir Abjatar, die priester, seun van Agimeleg: “Bring asseblief vir my die efod nader.” Abjatar het die efod na Dawid gebring, 8en Dawid het die Here geraadpleeg: “Moet ek hierdie rowerbende agtervolg? Sal ek hulle inhaal?” Die Here het vir hom gesê: “Jy moet, want jy sal hulle beslis inhaal en jy sal beslis jou mense red.”
9Dawid het toe vertrek, hy en die seshonderd man by hom; en toe hulle by die dal van Besor kom, het die wat agter geraak het, daar agtergebly. 10Maar Dawid het die agtervolging voortgesit, hy en vierhonderd man, terwyl tweehonderd man wat te uitgeput was om die dal van Besor oor te steek, agtergebly het.
11Hulle kry toe 'n Egiptenaar in die veld en neem hom na Dawid. Hulle het vir hom brood gegee, en hy het geëet. Hulle het hom ook water gegee om te drink. 12Toe gee hulle vir hom 'n skyf saamgeperste droë vye en twee blokke saamgeperste rosyne. Hy het dit geëet en sy lewenskrag het teruggekeer, want hy het drie dae en drie nagte lank nie brood geëet of water gedrink nie.
13Dawid vra hom toe: “By wie hoort jy, en waar kom jy vandaan?” Hy het geantwoord: “Ek is 'n jong man van Egipte, die slaaf van 'n Amalekiet. My heer het my agtergelaat, omdat ek drie dae gelede siek geword het. 14Ons het 'n strooptog uitgevoer in die Negev van die Kretensers, en in die Negev wat aan Juda behoort, en in die Negev van Kaleb; en ons het Siklag afgebrand.”
15Toe vra Dawid hom: “Sal jy my af neem na hierdie rowerbende?” Hy het geantwoord: “Sweer eers vir my by God dat u my nie sal doodmaak nie, en dat u my nie sal oorlewer in die hand van my heer nie, dan sal ek u af neem na hierdie rowerbende.”
16Hy het hom af geneem, en daar is hulle toe, versprei oor die hele gebied, besig om te eet en te drink en fees te vier met die hele groot buit wat hulle uit die gebied van die Filistyne en die gebied van Juda geneem het. 17Dawid het hulle aangeval, van ligdag af tot die aand van die volgende dag. Niemand van hulle het ontkom nie, behalwe vierhonderd jong manne wat op kamele geklim en gevlug het. 18Dawid het alles wat die Amalekiete gevat het, teruggevat. Dawid het ook sy twee vroue gered. 19Niks van wat aan hulle behoort, is vermis nie, klein of groot, seun of dogter, of enigiets van die buit nie – alles wat die bende vir hulle gevat het, dit alles het Dawid teruggebring. 20Dawid het ook op al hulle kleinvee en beeste beslag gelê. Die manne het dit voor die ander vee aangejaag en gesê: “Dit is Dawid se buit.”
21Toe Dawid by die tweehonderd manne aankom wat te moeg was om Dawid te volg en vir wie hulle in die dal van Besor agtergelaat het, het hulle Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoetgegaan. Toe Dawid by die manskappe kom, het hy gevra hoe dit met hulle gaan. 22Maar al die slegtes en deugniete onder die manne wat saam met Dawid gegaan het, het gereageer en gesê: “Omdat hulle nie saam met ons gegaan het nie, sal ons nie vir hulle van die buit gee wat ons teruggevat het nie; behalwe elkeen se vrou en kinders – dié mag hulle weglei, en dan moet hulle gaan.”
23Maar Dawid het gesê: “My broers, julle mag nie so maak met wat die Here vir ons gegee het nie. Hy het ons beskerm en die rowerbende wat teen ons te staan gekom het, in ons hand gegee. 24Wie sal na julle luister in hierdie saak? Want die deel van die een wat aan die geveg deelneem, is dieselfde as die deel van die een wat by die pakgoed bly; hulle deel gelykop.” 25Van daardie dag af en verder was dit toe so. Hy het dit as 'n vaste reël en gebruik vir Israel neergelê; dit is vandag nog so.
26Toe Dawid by Siklag aankom, het hy, as 'n vriend, van die buit vir die oudstes van Juda gestuur met die woorde: “Hier is 'n buitengewone geskenk vir julle uit wat gebuit is van die Here se vyande.” 27Hy het dit gestuur aan dié wat in Bet-El, in Ramot in die Negev en in Jattir is, 28aan dié wat in Aroër, in Sifmot en in Estemoa is, 29aan dié wat in Ragal, aan dié wat in die dorpe van Jeragmeël se mense en in die dorpe van die Keniete is, 30en aan dié wat in Gorma, in Bor-Asan en in Atag is, 31en aan dié wat in Hebron is – al die plekke waar Dawid rondgetrek het, hy en sy manne.