Viering van die Pasga
1Hiskia het boodskappe na die hele Israel en Juda gestuur, en selfs briewe geskryf aan Efraim en Manasse om na die huis van die Here in Jerusalem te kom, om die Pasga van die Here, die God van Israel, te vier. 2Die koning, sy •hoë amptenare en die hele geloofsgemeenskap het in Jerusalem ooreengekom om die Pasga in die tweede maand te vier, 3want hulle kon dit nie op die regte tyd vier nie, omdat nie genoeg priesters hulleself geheilig het nie, en die volk nie in Jerusalem bymekaar was nie. 4Dit was reg in die oë van die koning en die hele geloofsgemeenskap. 5Hulle het besluit om 'n boodskap dwarsdeur die hele Israel te stuur, van Berseba tot by Dan, om die Pasga van die Here, die God van Israel, te kom vier in Jerusalem; want hulle het dit voorheen nie as 'n menigte gevier soos dit voorgeskryf was nie. 6Hardlopers het met die briewe van die koning en sy hoë amptenare deur die hele Israel en Juda gegaan om op bevel van die koning te sê: “Israeliete, keer terug na die Here, die God van Abraham, Isak en Israel, sodat Hy kan terugkeer na dié wat oorgebly het, wat vir julle ontkom het uit die greep van die konings van Assirië. 7Moenie soos julle voorouers en julle stamgenote wees wat ontrou was aan die Here, die God van hulle voorouers nie, met die gevolg dat Hy hulle toe 'n verskrikking gemaak het, soos julle self sien. 8Moet nou nie hardnekkig wees soos julle voorouers nie. Steek 'n hand uit na die Here en kom na sy heiligdom wat Hy vir altyd geheilig het. Dien die Here julle God, sodat sy brandende toorn van julle afgewend word. 9Want as julle terugkeer na die Here, sal julle stamgenote en seuns welwillendheid ervaar by dié wat hulle weggevoer het, sodat hulle na hierdie land kan terugkeer. Die Here julle God is immers genadig en barmhartig; Hy sal nie die gesig van julle wegdraai as julle na Hom terugkeer nie.”
10Die hardlopers het van dorp tot dorp die gebied van Efraim en Manasse deurkruis tot sover as Sebulon. Maar die mense het hulle telkens uitgelag en met hulle die spot gedryf. 11Tog het sommige uit Aser, Manasse en Sebulon hulle verootmoedig en na Jerusalem gekom. 12Ook oor Juda was die hand van God om aan hulle 'n eensgesinde hart te gee, sodat hulle die bevel van die koning en die hoë amptenare uitgevoer het in ooreenstemming met die woord van die Here.
13Baie mense het in Jerusalem byeengekom om in die tweede maand die Fees van die Ongesuurde Brood te vier. Dit was 'n baie groot byeenkoms. 14Hulle het gereedgemaak en die altare wat in Jerusalem was, verwyder. Hulle het ook al die wierookaltare verwyder en dit in die Kidrondal gegooi.
15Hulle het die pasgalam geslag op die veertiende dag van die tweede maand. Die priesters en Leviete het hulle geskaam, hulleself geheilig en die •brandoffers nadergebring in die huis van die Here. 16Hulle het hulle plekke ingeneem soos vir hulle bepaal word deur die Wet van Moses, die man van God. Die priesters het telkens die bloed gesprinkel wat die Leviete aangee. 17Omdat daar baie in die byeenkoms was wat hulleself nie geheilig het nie, was die Leviete belas met die slag van die pasgalammers van almal wat nie gereinig was om dit aan die Here te wy nie. 18Ja, die grootste deel van die volk, baie uit Efraim, Manasse, Issaskar en Sebulon, het hulleself nie gereinig nie, maar tog die pasgalam geëet op 'n ander wyse as wat voorgeskryf was. Hiskia het egter vir hulle gebid en gesê: “Mag die Here wat goed is, versoening doen vir 19elkeen wat sy hart daarop gerig het om God, die Here, die God van sy voorouers, te soek, al voldoen hy nie aan die reinheidsvoorskrifte van die heiligdom nie.” 20Die Here het Hiskia verhoor en die volk genees.
21Die Israeliete wat in Jerusalem teenwoordig was, het die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank met groot vreugde gevier, terwyl die Leviete en die priesters elke dag die Here loof met instrumente waarmee die mag van die Here besing is. 22Hiskia het al die Leviete wat goeie begrip getoon het in hulle diens aan die Here, bemoedigend toegespreek.
Die mense het in die feestyd van sewe dae die •maaltydoffers wat gebring is, geëet, terwyl hulle belydenis doen voor die Here, die God van hulle voorouers. 23Die hele geloofsgemeenskap het toe ooreengekom om nog sewe dae fees te vier. Hulle het toe die sewe dae met vreugde gevier, 24want Hiskia, die koning van Juda, het aan die geloofsgemeenskap eenduisend bulle en seweduisend stuks kleinvee afgestaan, en die hoë amptenare het vir die geloofsgemeenskap 'n duisend bulle en tienduisend stuks kleinvee afgestaan. In groot getalle het priesters hulleself geheilig. 25Die hele geloofsgemeenskap van Juda was verheug, ook die priesters en die Leviete, en die hele geloofsgemeenskap wat uit Israel gekom het, sowel as die •vreemdelinge wat uit die gebied van Israel gekom het en dié wat in Juda gewoon het. 26Daar was groot vreugde in Jerusalem, want sedert die dae van Salomo, seun van Dawid, koning van Israel, het daar nie so iets in Jerusalem gebeur nie. 27Die priesters en Leviete het toe opgestaan en die volk geseën; hulle stem is gehoor en hulle gebed het God se heilige woning, die hemel, bereik.