Versorging van 'n behoeftige
1Elisa het gepraat met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, en gesê: “Maak gereed en gaan, jy en jou huisgesin; gaan bly as •vreemdeling waar jy ook al kan, want die Here het 'n hongersnood aangekondig. Die ergste is, dit het gekom om sewe jaar lank oor die land te heers.” 2Die vrou het gereedgemaak en gedoen wat die man van God gesê het. Sy en haar huisgesin het gegaan, en sy het sewe jaar lank as vreemdeling in die land van die Filistyne gebly.
3Aan die einde van die sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het uitgegaan om haar op die koning te beroep oor haar huis en haar grond. 4Die koning was juis in gesprek met Gehasi, die dienaar van die man van God, en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dade wat Elisa gedoen het.” 5Hy was besig om vir die koning te vertel hoe Elisa 'n dooie lewend gemaak het, en juis toe kom die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, daar aan met die beroep op die koning oor haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “My heer die koning, dit is die vrou, en dit is haar seun wat Elisa lewend gemaak het!” 6Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning 'n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.”
Gasael koning van Aram
7Elisa het in Damaskus gekom toe Ben-Hadad, koning van Aram, siek was. Hy is ingelig: “Die man van God het hier aangekom.” 8Die koning sê toe vir Gasael: “Neem 'n geskenk saam en gaan ontmoet die man van God. Raadpleeg dan die Here deur hom en vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ”
9Gasael het gegaan om hom te ontmoet; hy het 'n geskenk en van alles wat goed was in Damaskus, saamgeneem – 'n vrag vir veertig kamele. Hy het gekom, voor Elisa gaan staan en gesê: “U seun Ben-Hadad, koning van Aram, het my na u gestuur om te vra, ‘Sal ek van hierdie siekte herstel?’ ” 10Elisa het vir hom gesê: “Gaan sê, ‘Jy sal beslis nie herstel nie. Die Here het aan my geopenbaar dat jy beslis sal sterf.’ ” 11Elisa se blik het verstar en hy het hom aangestaar totdat Gasael verleë was. Toe huil die man van God. 12Gasael het gevra: “Waarom huil my heer?” Hy het geantwoord: “Omdat ek weet watter kwaad jy die Israeliete gaan aandoen. Hulle versterkte stede sal jy aan die brand steek, hulle jong manne gaan jy met die swaard vermoor, hulle kinders sal jy te pletter slaan en hulle swanger vroue sal jy oopsny.” 13Gasael het egter gesê: “Maar wat is u dienaar, 'n hond, dat hy iets so erg sal doen?” Toe sê Elisa: “Die Here het aan my geopenbaar dat jy koning oor Aram sal word.”
14Hy het van Elisa af weggegaan en toe hy by sy heer kom, het dié hom gevra: “Wat het Elisa vir jou gesê?” Hy het geantwoord: “Hy het vir my gesê dat u beslis sal leef.” 15Maar die volgende oggend het Gasael 'n deken geneem en dit in water gedompel. Hy het dit oor die koning se gesig getrek, en hy het gesterf. Gasael het toe in sy plek koning geword.
Jehoram koning van Juda
16In die vyfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, die koning van Israel, toe Josafat nog koning was van Juda, het Jehoram, die seun van Josafat, sy vader opgevolg as koning van Juda. 17Hy was twee-en-dertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het agt jaar lank as koning geheers in Jerusalem. 18Hy het die pad van die konings van Israel gevolg, soos die huis van Agab gedoen het, want Agab se dogter was sy vrou. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. 19Maar ter wille van Dawid, sy dienskneg, wou die Here Juda nie vernietig nie, aangesien Hy vir Dawid beloof het om vir hom en sy seuns altyd 'n lamp te gee.
20In die tyd van Jehoram het die Edomiete weggebreek van die gesag van Juda en 'n koning oor hulle aangestel. 21Jehoram het toe oorgegaan na Saïr met al die strydwaens by hom. Hy het in die nag gereedgemaak en die Edomiete wat hom en die •aanvoerders van die strydwamag omsingel het, verslaan, maar die manskappe het na hulle tente gevlug. 22Die Edomiete het weggebreek van die gesag van Juda; dit is vandag nog so. In dieselfde tyd het Libna toe ook weggebreek.
23Die verdere geskiedenis van Jehoram, alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 24Jehoram het by sy voorouers gaan rus, en hy is begrawe by sy voorouers in die Stad van Dawid. Ahasia, sy seun, het in sy plek koning geword.
Ahasia koning van Juda
25In die twaalfde regeringsjaar van Joram, seun van Agab, die koning van Israel, het Ahasia, seun van Jehoram, die koning van Juda, koning geword. 26Ahasia was twee-en-twintig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het een jaar lank as koning geheers in Jerusalem. Sy moeder se naam was Atalia, 'n kleindogter van Omri, koning van Israel. 27Hy het die pad van die huis van Agab gevolg en gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, net soos die huis van Agab, want hy was aangetroude familie van die huis van Agab.
28Hy het saam met Joram, seun van Agab, gegaan vir die geveg teen Gasael, koning van Aram, by Ramot in Gilead; maar die Arameërs het Joram verslaan. 29Toe het koning Joram teruggekeer om in Jisreël van sy wonde te herstel wat die Arameërs hom toegedien het by Rama, toe hy teen Gasael, koning van Aram, geveg het. Ahasia, seun van Jehoram, koning van Juda, het toe afgegaan om Joram, seun van Agab, in Jisreël te besoek, omdat hy siek was.