Opname van die weerbare manne
1Die toorn van die Here het weer teen Israel ontbrand. Hy het Dawid teen hulle opgesteek met die woorde: “Gaan tel Israel en Juda.” 2Toe sê die koning vir Joab, die leëraanvoerder wat by hom was: “Gaan rond onder al die stamme van Israel, van Dan tot Berseba, en maak 'n opname van die manskappe, sodat ek kan weet hoeveel manskappe daar is.” 3Maar Joab het vir die koning gesê: “Mag die Here u God by die manskappe nog 'n honderd maal soveel byvoeg as wat hulle is, terwyl my heer die koning dit sien! Maar, my heer die koning, waarom wil u dit so graag doen?” 4Die koning se woord het egter meer gewig gedra as dié van Joab en die leëraanvoerders, en Joab en die leëraanvoerders het van die koning af uitgegaan om 'n opname te maak van die manskappe in Israel.
5Hulle het die Jordaan oorgesteek en kamp opgeslaan by Aroër, suid van die dorp in die middel van die dal Gad, aan die kant van Jaeser. 6Daarna het hulle in Gilead ingegaan, na die streek van Tagtim-Godsi. Hulle het in Dan-Jaän aangekom en weggedraai na Sidon. 7Toe het hulle by die versterkte stad Tirus aangekom, en ook by al die dorpe van die Hewiete en Kanaäniete, en daarna uitbeweeg na die suide van Juda by Berseba. 8So het hulle rondgegaan deur die hele land, en ná nege maande en twintig dae weer in Jerusalem aangekom. 9Joab het die getal van die manskappe waarvan 'n opname gemaak is, aan die koning oorhandig: In Israel was daar agthonderdduisend weerbare manne gewapen met swaarde, en die weerbare manne van Juda was vyfhonderdduisend man.
10Maar Dawid se gewete het hom gepla nadat hy die manskappe getel het. Dawid sê toe vir die Here: “Ek het ernstig gesondig deur wat ek gedoen het. Here, skeld nou asseblief die sondeskuld van u dienskneg kwyt, want ek het baie dwaas opgetree.”
11Toe Dawid die volgende oggend opstaan, het die woord van die Here tot die profeet Gad, die siener van Dawid, gekom: 12“Gaan sê vir Dawid, ‘So sê die Here: “Drie moontlikhede lê Ek aan jou voor; kies vir jou een daarvan, sodat Ek dit aan jou kan doen.” ’ ” 13Gad het by Dawid gekom en hom dit meegedeel. Hy het vir hom gesê: “Moet daar sewe jaar hongersnood oor jou in jou land kom; of moet jy drie maande lank op die vlug wees voor jou teenstanders, terwyl hulle jou agtervolg; of moet daar drie dae lank pessiekte wees in jou land? Oorweeg dit en kyk watter antwoord ek moet terugneem na Hom wat my gestuur het.” 14Toe sê Dawid vir Gad: “Ek is baie benoud. Mag ons tog in die hand van die Here val, want groot is sy ontferming. Maar mag ek nie in die hande van mense val nie.”
15Die Here het toe 'n pessiekte in Israel beskik, van die oggend af tot die vasgestelde tyd. Van Dan tot Berseba het sewentigduisend man gesterf. 16En toe die engel sy hand na Jerusalem uitsteek om dit te verwoes, was die Here jammer oor die ramp. Hy sê toe vir die engel, wat besig was om verwoesting te saai onder die manskappe: “Dit is nou genoeg, trek jou hand terug!” Die •engel van die Here was toe naby die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
17Dawid het met die Here gepraat toe hy die engel sien wat die manskappe tref. Hy het gesê: “Kyk, ek is die een wat gesondig het, ek is die een wat afgedwaal het. Hierdie manne is maar kleinvee. Wat het hulle gedoen? Laat u hand asseblief teen my en my familie wees.”
18Gad het dieselfde dag nog by Dawid gekom en vir hom gesê: “Gaan op na die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, en rig vir die Here daar 'n altaar op.” 19Dawid het, soos die Here deur Gad opdrag gegee het, opgegaan, 20en toe Arauna afkyk en die koning en sy dienaars na hom sien aankom, het hy uitgegaan en voor die koning diep neergebuig met sy gesig teen die grond. 21Arauna sê toe: “Waarom kom my heer die koning na sy dienaar?” Daarop antwoord Dawid: “Om die dorsvloer by jou te koop, om vir die Here 'n altaar te bou, sodat die plaag van die manskappe afgewend kan word.” 22Arauna het egter vir Dawid gesê: “My heer die koning kan neem en offer soos wat goed is in sy oë. Kyk, daar is die beeste vir 'n •brandoffer, en die dorssleë en jukke van die beeste as brandhout. 23Dit alles, o koning, skenk Arauna aan die koning.” Arauna het ook vir die koning gesê: “Mag die Here u God u aanvaar!” 24Maar die koning het Arauna geantwoord: “Nee! Want ek gaan dit beslis by jou koop teen 'n prys. Ek gaan nie aan die Here my God brandoffers bring sonder uitgawes nie.”
Dawid het toe die dorsvloer en die beeste gekoop vir vyftig sikkel silwer. 25Dawid het daar vir die Here 'n altaar gebou en brandoffers en •maaltydoffers gebring. Die Here het toe die smeekbedes vir die land verhoor, en die plaag is van Israel afgewend.