1Agrippa het vir Paulus gesê: “Jy het vergunning om jou saak te stel.” Toe het Paulus sy hand uitgestrek en homself verdedig: 2“Ek ag myself gelukkig, koning Agrippa, dat ek my vandag voor u gaan verdedig teen alles waarvan ek deur die Jode aangekla is, 3veral omdat u op hoogte is van al die gebruike en strydvrae onder die Jode. Dus versoek ek u om geduldig na my te luister. 4Al die Jode weet hoe ek van die begin af, sedert my jeug, my lewe onder my volk in Jerusalem gelei het. 5Omdat hulle my van jongs af ken, sal hulle kan getuig, as hulle wil, dat ek volgens die strengste party in ons godsdiens, as •Fariseër geleef het. 6En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat deur God aan ons voorvaders gemaak is – 7die belofte wat ons twaalf stamme hoop om te verkry deurdat ons God dag en nag in alle erns dien. O koning, dit is oor hierdie hoop dat ek deur die Jode aangekla word. 8Waarom word dit deur julle as ongeloofbaar beskou dat God dooies opwek? 9Ek was self daarvan oortuig dat dit nodig is om baie vyandig op te tree teen die Naam van Jesus van Nasaret, 10wat ek ook inderdaad in Jerusalem gedoen het. Met die volmag wat ek van die leierpriesters ontvang het, het ek baie van die •heiliges in die tronk laat opsluit, en as hulle om die lewe gebring is, het dit met my instemming gebeur. 11Deur hulle dikwels te laat straf in al die •sinagoges, het ek hulle probeer dwing om te laster. Ek was so rasend van woede teenoor hulle dat ek hulle selfs in stede in die buiteland vervolg het.”
Paulus oor sy bekering
12“Terwyl ek op 'n keer, in opdrag van die leierpriesters, en met hulle volmag, juis hiervoor na Damaskus op reis was, 13o koning, het ek langs die pad helder oordag 'n lig uit die hemel gesien, helderder as die son, wat om my en my reisgenote skyn. 14Toe ons almal op die grond neerval, hoor ek 'n stem wat vir my in die Hebreeuse taal sê, ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Dit is vir jou swaar om teen die prikkels te skop.’ 15‘Wie is U, Here?’ vra ek toe. En die Here het gesê, ‘Ek is Jesus vir wie jy vervolg. 16Maar kom op jou voete, staan regop, want hiervoor het Ek aan jou verskyn: om jou aan te stel as dienskneg en getuie van dit wat jy van My gesien het en van dit waaroor Ek nog aan jou sal verskyn. 17Ek sal jou red uit jou volk en van die heidene na wie Ek jou stuur, 18om hulle oë oop te maak, sodat hulle hulle van die duisternis na die lig kan draai, en van die mag van Satan na God, en ook dat hulle, deur geloof in My, vergewing van sonde en 'n erfdeel saam met die geheiligdes kan ontvang.’
19“Om hierdie rede, koning Agrippa, was ek nie aan die hemelse visioen ongehoorsaam nie, 20maar ek het eers aan die inwoners van Damaskus sowel as Jerusalem, en toe aan die hele landstreek van Judea en aan die heidene, verkondig dat hulle tot bekering moet kom en hulle na God moet keer deur werke te doen wat by die bekering pas. 21Hieroor het die Jode my gegryp toe ek in die tempelterrein was, en het hulle my probeer doodmaak. 22Omdat ek God se bystand tot op hierdie dag ervaar het, staan ek voor klein en groot, en getuig oor niks anders as wat die Profete en Moses gesê het sal gebeur nie, 23naamlik dat die Christus moes ly, en die eerste uit die opstanding van die dooies moes wees, om aan sy volk en aan die heidene die lig te verkondig.”
Paulus en Agrippa
24Terwyl Paulus hierdie dinge ter verdediging aanvoer, roep Festushardop uit: “Jy is waansinnig, Paulus! Jou groot geleerdheid dryf jou tot waansin!” 25Maar Paulus sê: “Ek is nie waansinnig nie, hooggeagte Festus, maar wat ek sê, spreek van waarheid en gesonde oordeel. 26Die koning begryp hierdie dinge; met hom kan ek vrymoedig praat. Want ek is daarvan oortuig dat niks hiervan hom ontgaan het nie, want dit het nie iewers in 'n uithoek plaasgevind nie. 27Koning Agrippa, glo u in die Profete? Ek weet u glo.” 28Toe sê Agrippa vir Paulus: “In 'n kort tydjie probeer jy my oorreed om 'n Christen te word?” 29Maar Paulus antwoord: “Of dit nou minder of meer verg, ek sou tot God wil bid dat nie net u nie, maar ook almal wat my vandag aanhoor, mag word soos ek is, maar sonder hierdie boeie.”
30Toe het die koning opgestaan, en ook die prokurator en Bernice, en diegene wat saam met hulle daar gesit het. 31Hulle het uitgegaan en vir mekaar gesê: “Hierdie man doen niks wat die dood of gevangenskap verdien nie.” 32En Agrippa het vir Festus gesê: “Hierdie man kon vrygelaat gewees het as hy hom nie op die keiser beroep het nie.”