Daniël se standvastigheid
1In die derde jaar van die regering van Jojakim, die koning van Juda, het Nebukadnesar, die koning van Babilonië, na Jerusalem gekom en dit beleër. 2Die Heer het Jojakim, die koning van Juda, en ook 'n deel van die voorwerpe in die huis van God in sy hand oorgegee. Hy het dit na die land Sinar, na die tempel van sy gode geneem – die voorwerpe het hy na die skatkamer van sy gode geneem.
3Die koning het Aspenas, die rabsaries, toe aangesê om uit die Israeliete, uit die koninklike familie en die vernames, 4jong seuns te bring
aan wie daar nie enige
liggaamsgebrek is nie,
wat 'n goeie voorkoms het,
wat insig in alle soorte
wysheid het,
wat oor kennis en goeie
oordeelsvermoë beskik,
en wat in staat is om in die
paleis van die koning te dien,
en in die skrif en taal
van die Galdeërs onderrig te word.
5Vir hulle het die koning, volgens die vereistes van elke dag, van die koning se kos en van die wyn wat hy gedrink het, voorgeskryf, sodat hulle vir drie jaar lank opgevoed kon word om aan die einde daarvan in diens van die koning te kan staan.
6Onder hulle was daar van die Judeërs – Daniël, Gananja, Misael en Asarja. 7Maar die toesighouer oor die paleisamptenare, het hulle name vervang: Daniël het hy Beltsasar, Gananja het hy Sadrag, Misael het hy Mesag, en Asarja het hy Abednego genoem.
8Daniël was egter vas van voorneme dat hy homself nie sou besoedel met die koning se kos en die wyn wat die koning gedrink het nie. Hy het toe die toesighouer oor die paleisamptenare vergunning gevra dat hy homself nie hoef te besoedel nie. 9God het gesorg dat daar by die toesighouer oor die paleisamptenare 'n goeie gesindheid en ontferming was teenoor Daniël. 10Die toesighouer oor die paleisamptenare het egter vir Daniël gesê: “Ek is bang vir my heer die koning, wat vir julle kos en drank voorgeskryf het. Waarom moet hy sien dat julle gesigte maerder is as dié van die ander jong seuns van julle ouderdom? Julle sal maak dat die koning my kop eis.”
11Daniël sê toe vir die oppasser wat die toesighouer oor die paleisamptenare oor hom, Daniël, en oor Gananja, Misael en Asarja aangestel het: 12“Toets asseblief u dienaars tien dae lank. Hulle moet ons van die groente gee, sodat ons dit eet, en water, sodat ons dit drink. 13Laat dan in u teenwoordigheid ons voorkoms en die voorkoms van die ander jong seuns wat die koning se kos eet, nagegaan word. Handel dan met u dienaars volgens wat u sien.”
14Hy het na hulle geluister wat hierdie saak betref, en hulle tien dae lank getoets. 15Aan die einde van die tien dae was hulle voorkoms beter en het hulle liggame voller vertoon as al die jong seuns wat die koning se kos bly eet het. 16Die oppasser het toe hulle kos en die wyn wat hulle moes drink, weggeneem en vir hulle groente bly gee.
17En hierdie jong seuns, hulle vier – aan hulle het God oordeelsvermoë gegee, en ook insig in allerlei geskrifte en wysheid. Daniël kon alle visioene en drome begryp. 18Aan die einde van die tydperk wat die koning bepaal het dat hulle ingebring moes word, het die toesighouer oor die paleisamptenare hulle voor Nebukadnesar gebring. 19Die koning het met hulle gepraat, en onder hulle almal is daar niemand gevind soos Daniël, Gananja, Misael en Asarja nie. Hulle het by die koning in diens getree. 20En in verband met enige saak wat wysheid en insig geverg het waaroor die koning hulle uitgevra het, het hy hulle tien maal beter gevind as al die waarsêerpriesters en goëlaars in sy hele koninkryk.
21Daniël was daar tot die eerste regeringsjaar van koning Kores.