Daniël se gebed
1In die eerste regeringsjaar van Darius, seun van Ahasveros, uit die nageslag van die Mede, wat as koning aangestel is oor die koninkryk van die Galdeërs, 2in die eerste jaar van sy koningskap, het ek, Daniël, in die •boekrolle opgemerk dat die getal jare wat moes verloop vir die puinhope van Jerusalem, waaroor die woord van die Here tot Jeremia gekom het, sewentig jaar sou wees. 3Ek het my tot God, my Heer, gewend om Hom in gebed en smeking te soek, deur te vas, in 'n roukleed en met stof op die kop. 4Ek het gebid tot die Here, my God; ek het bely en gesê: “Ag, my Heer, U is die groot en ontsagwekkende God wat die verbond en verbondstrou in stand hou vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom. 5Ons het gesondig, ons het verkeerd opgetree, ons het ons skuldig gemaak en in opstand gekom. Ons het afgewyk van u gebooie en u beslissings. 6En ons het nie geluister na u diensknegte die profete nie, hulle wat in u Naam gepraat het met ons konings, ons •hoë amptenare, ons voorouers en met die hele volk van die land. 7By U, my Heer, is daar regverdige optrede, en by ons is daar gesigte vol skaamte, soos dit vandag is – by die manne van Juda, by die inwoners van Jerusalem en by die hele Israel, dié wat naby is en dié wat ver is in al die lande waarheen hulle verdryf is op grond van die ontrou wat hulle teen U gepleeg het. 8Here, by ons is daar gesigte vol skaamte – by ons konings, ons hoë amptenare en ons voorouers, omdat ons teen U gesondig het; 9by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis. Omdat ons teen Hom in opstand was 10en nie geluister het na die stem van die Here ons God, deur sy wette te volg wat Hy aan ons voorgehou het deur sy diensknegte, die profete nie; 11en omdat die hele Israel u wet oortree en afgewyk het deur nie te luister na u stem nie, het die vloek en die eed wat geskryf staan in die Wet van Moses, die dienaar van God, teen ons losgebreek. Ja, ons het teen Hom gesondig, 12en Hy het sy woorde gestand gedoen wat Hy gespreek het oor ons en ons rigters wat ons moes rig, deur 'n groot onheil oor ons te bring – iets wat onder die ganse hemel nog nie gebeur het, soos daar wel in Jerusalem gebeur het nie. 13Soos daar geskryf staan in die Wet van Moses, het al hierdie onheil oor ons gekom, maar ons het die guns van die Here ons God nie gesoek deur van ons sondeskuld weg te draai en ag te slaan op u waarheid nie. 14Die Here het met die onheil gereed gestaan, en het dit oor ons gebring. Die Here ons God is immers regverdig in alles wat Hy doen. Maar ons het nie na sy stem geluister nie.
15“En nou, my Heer, ons God, U wat u volk uit Egipteland uitgelei het met 'n sterk hand en vir U 'n naam gemaak het soos dit vandag is – ons het gesondig, ons is skuldig. 16My Heer, laat, in ooreenstemming met al u weldade, u toorn en woede asseblief wegdraai van u stad Jerusalem, u heilige berg. Want dit is deur ons sonde en die sondeskuld van ons voorouers dat Jerusalem en u volk 'n bespotting geword het vir almal om ons. 17Daarom, ons God, luister na die gebed van u dienskneg en na sy smeekbede, en laat, ter wille van my Heer, u aangesig skyn oor u heiligdom, wat verwoes lê. 18Draai u oor, my God, en hoor! Maak u oë oop en sien ons verwoeste plekke raak en ook die stad waaroor u Naam uitgeroep is! Want nie op grond van ons regverdige dade lê ons ons smeekbede voor u nie, maar op grond van u oorvloedige barmhartigheid. 19My Heer, hoor tog! My Heer, vergewe tog! My Heer, gee tog aandag en tree op! Moenie talm nie, om u eie ontwil, my God, want u Naam is uitgeroep oor u stad en u volk.”
20Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die Here, my God, te lê, 21ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. 22Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. 23Aan die begin van jou smeekgebed het daar 'n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar, want jy is baie geliefd. Verstaan die woord en kry insig in die openbaring:
24“Sewentig weke is bepaal
oor jou volk en jou heilige stad:
om die daad van opstand
tot 'n einde te bring,
om sondes die volle maat te laat bereik,
om sondeskuld te versoen,
en ewige geregtigheid te bring,
om visioen en profeet te bekragtig,
en om wat besonder heilig is, te salf.
25“Jy moet weet en verstaan: Vandat 'n woord uitgegaan het om Jerusalem te herstel en op te bou, tot met die koms van 'n gesalfde, 'n leier, sal sewe weke verloop. Twee-en-sestig weke lank sal die stad weer opgebou word, met pleine en gragte, maar dit sal tye van verdrukking wees. 26Ná twee-en-sestig weke sal die gesalfde uitgewis word, en daar sal vir hom niks oorbly nie. En wat die stad en die heiligdom betref: Die volk van 'n leier wat kom, sal dit verwoes, maar sy einde sal deur 'n vloed wees. Tot die einde sal daar oorlog wees; verwoesting is vooruitbepaal. 27En hy sal vir een week 'n bindende ooreenkoms aangaan met die menigtes. In die middel van die week sal hy die slagoffer en •graanoffer laat ophou, en by die vlerk van verfoeilike afgodsbeelde sal daar een wees wat verwoes, totdat finale vernietiging en wat vooruitbepaal is, oor die verwoester losbars.”