Reëls vir oorlogvoering
1“Wanneer jy vir 'n geveg uittrek teen jou vyande, en jy sien perde en strydwaens en meer manskappe as jy, moet jy nie vir hulle bang wees nie, want die Here jou God, wat jou uit Egipteland laat optrek het, is by jou. 2Wanneer julle nader beweeg vir die geveg, moet 'n priester na vore tree en die manskappe toespreek. 3Hy moet vir hulle sê, ‘Luister, Israel, julle gaan vandag betrokke raak in 'n geveg met julle vyande. Moenie lafhartig wees nie; moenie bang wees, haastig omspring of beangs raak oor hulle nie. 4Dit is immers die Here julle God wat saam met julle gaan om vir julle teen julle vyande te veg, om julle te laat wen.’
5“Dan moet die opsieners die manskappe toespreek, ‘Wie het 'n nuwe huis gebou en dit nog nie in gebruik geneem nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en neem iemand anders dit in gebruik. 6Wie het 'n wingerd geplant en nog nie self die eerste vrugte daarvan geniet nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en geniet iemand anders daarvan. 7Wie is aan 'n vrou verloof en het haar nog nie geneem nie? Hy mag teruggaan na sy huis, anders sneuwel hy in die geveg en neem 'n ander man haar.’
8“Die opsieners moet verder ook die manskappe toespreek en sê, ‘Wie bang en lafhartig is, laat hy teruggaan na sy huis sodat hy nie sy volksgenote se harte laat ineenkrimp soos syne nie.’ 9Wanneer die opsieners dan die manskappe klaar toegespreek het, moet hulle •aanvoerders van leërafdelings as hoofde oor die manskappe aanwys.
10“Wanneer jy by 'n stad kom om daarteen oorlog te voer, moet jy vir die stad die vredesvoorwaardes uitroep. 11As die stad jou antwoord, ‘Vrede!’ en vir jou die poorte oopmaak, dan is al die mense in die stad tot jou beskikking vir dwangarbeid en moet hulle jou dien. 12As hulle egter nie met jou wil vrede maak nie, maar teen jou wil oorlog voer, dan moet jy die stad beleër. 13Wanneer die Here jou God dit in jou hand gee, moet jy al die manlike inwoners met die skerpte van die swaard neervel. 14Slegs die vroue en kinders, die diere en alles wat in die stad is, al die buit daarin, mag jy vir jouself vat. Jy mag eet wat buitgemaak is van jou vyande, wat die Here jou God aan jou gee. 15So moet jy maak met al die stede wat baie ver van jou af lê, wat nie deel is van die stede van hierdie nasies hier rond nie. 16Uit die stede van hierdie volke wat die Here jou God vir jou as erfdeel gaan gee, mag jy egter niemand wat asemhaal, laat leef nie; 17maar jy moet hulle, soos die Here jou God jou beveel het, volledig met die banvloek tref: die Hetiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. 18Julle moet dit doen, sodat hulle julle nie leer om al hulle afstootlike gebruike wat hulle vir hulle gode beoefen, na te doen en julle sodoende teen die Here julle God sondig nie.
19“Wanneer jy 'n stad lank beleër en daarteen oorlog voer om dit te verower, moet jy die bome nie verwoes deur die byl in te lê nie, want jy moet daarvan eet; jy mag dit nie afkap nie. Is die bome in die veld dan mense dat hulle deur jou toedoen by die beleg betrek moet word? 20Slegs bome waarvan jy seker is dat jy nie daarvan kan eet nie, dié mag jy verwoes en afkap en daarmee beleëringswerke oprig teen die stad wat teen jou oorlog maak, totdat die stad tot 'n val kom.”