1Toe ek kyk, is daar bo die koepel wat oor die gerubs se koppe was, iets soos •lasuursteen in die vorm van 'n troon! Dit was sigbaar bo die gerubs. 2Toe praat die Here met die man geklee in linne. Hy het gesê: “Gaan tussen die wiele in, onder die gerubs, en maak jou twee hande daar tussen die gerubs vol gloeiende kole vuur, en strooi dit oor die stad uit.”
Hy het voor my oë daar ingegaan. 3Die gerubs het aan die regterkant in die •tempel gestaan toe die man daar ingaan, en die wolk het die binneste voorhof gevul. 4Die heerlikheid van die Here het van bo die gerub opgestyg en oor die drumpel van die tempel gegaan. Die tempel was gevul met die wolk, en die voorhof was vol van die helder gloed van die heerlikheid van die Here. 5Die geluid van die gerubs se vlerke kon tot in die buitenste voorhof gehoor word. Dit was soos die stem van God, die Almagtige, wanneer Hy praat.
6Toe die Here die man geklee in linne die opdrag gee, “Neem vuur daar tussen die wiele, tussen die gerubs,” het hy ingegaan en langs 'n wiel gaan staan. 7'n Gerub het sy hand daar tussen die gerubs uitgesteek na die vuur wat tussen die gerubs was, dit opgetel en in die twee bak hande van die een geklee in linne geplaas. Hy het dit geneem en uitgegaan. 8Dit het gelyk of die gerubs 'n vorm van mensehande onder hulle vlerke het.
9Toe ek kyk, is daar vier wiele langs die gerubs, 'n wiel langs elke gerub! Die wiele het gelyk of hulle soos •chrisoliet-edelstene skitter. 10Al vier het presies dieselfde vorm gehad, asof daar 'n wiel binne-in 'n wiel was. 11Wanneer hulle beweeg het, kon hulle na enige van die vier kante beweeg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg. Want die plek waarheen die voorste wiel gewys het, daarheen het die ander hom gevolg, sonder om af te draai wanneer hulle beweeg.
12Hulle hele liggaam, hulle rûe, hulle hande en vlerke, asook die wiele – al vier se wiele – was rondom vol oë. 13Wat die wiele betref, hulle is, soos ek dit gehoor het, die wielstelsel genoem. 14Elke gerub het vier gesigte gehad: Die eerste gesig was dié van 'n gerub, die tweede gesig dié van 'n mens, die derde die gesig van 'n leeu, en die vierde die gesig van 'n arend.
15Die gerubs het opgestyg. Dit was die wesens wat ek reeds by die Kebarrivier gesien het. 16Wanneer die gerubs beweeg het, het die wiele langs hulle beweeg, en wanneer die gerubs hulle vlerke gelig het om van die grond af op te styg, het ook hulle, die wiele langs hulle, nie weggedraai nie. 17Wanneer die gerubs stilstaan, het hulle stilgestaan, en wanneer die gerubs opstyg, het hulle saam opgestyg; want die gees van die wesens was in hulle.
18Die heerlikheid van die Here het uitgekom van bo die drumpel van die tempel en bo die gerubs tot stilstand gekom. 19Die gerubs het hulle vlerke gelig en voor my oë van die grond af opgestyg, met die wiele steeds langs hulle terwyl hulle opstyg. Hulle het tot stilstand gekom by die ingang van die poort aan die oostekant van die huis van die Here, en die heerlikheid van die God van Israel was bo hulle.
20Dit was die wesens wat ek by die Kebarrivier gesien het onder die God van Israel. Ek het besef dat dit gerubs is. 21Elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad, en onder hulle vlerke was iets in die vorm van mensehande. 22En wat die vorm van hulle gesigte betref: Dit was die gesigte wat ek langs die Kebarrivier gesien het – dieselfde voorkoms, ja, dit was hulle. Elkeen het reguit vorentoe beweeg.