Besnydenis
1Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! 2Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.” 3Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat: 4“Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van 'n menigte nasies word. 5Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van 'n menigte nasies maak Ek jou. 6Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom. 7Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. 8Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle 'n God wees.”
9God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen. 10En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle. 12Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook 'n kind uit die huishouding, en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie. 13'n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as 'n ewige verbond. 14'n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.”
15God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara wees. 16Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou 'n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.” 17Abraham het neergeval met sy gesig teen die grond, maar hy het gelag en in sy hart gesê: “Kan daar vir 'n honderdjarige 'n kind gebore word? Of sal Sara, 'n negentigjarige, kan geboorte skenk?” 18Toe sê Abraham vir God: “As Ismael maar net voor U kan leef!” 19Maar God het gesê: “Inteendeel, Sara, jou vrou gaan vir jou 'n seun in die wêreld bring, en jy moet hom Isak noem. Ek sal my verbond met hom handhaaf, as 'n ewige verbond vir sy nageslag ná hom. 20Wat Ismael betref: Ek het jou verhoor. Kyk, Ek sal hom seën, hom vrugbaar maak en hom buitengewoon talryk maak. Twaalf leiers sal hy verwek, en Ek sal hom 'n groot nasie maak. 21Maar my verbond sal Ek handhaaf met Isak, wat Sara teen hierdie tyd volgende jaar vir jou in die wêreld sal bring.” 22Nadat Hy klaar met hom gepraat het, het God opgevaar, weg van Abraham af.
23Abraham het sy seun Ismael geneem, ook al die kinders uit sy huishouding en almal wat met sy geld gekoop is, elke manlike persoon onder die mense van Abraham se huishouding, en hy het die vlees van hulle voorhuide besny – nog daardie selfde dag, soos God vir hom gesê het. 24Abraham was nege-en-negentig jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid, 25en sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy besny is aan die vlees van sy voorhuid. 26Op dieselfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny, 27en ook al die manne van sy huishouding, die kinders uit sy huishouding en dié wat met geld gekoop is van vreemdes. Hulle is saam met hom besny.